Thursday, 4 October 2012

Vreemder As Fiksie


1.            VREEMDER AS FIKSIE

Honderde deelnemers. Twintig leidrade. Vyf fiktiewe Facebook-vriende. Twee maande. Vyf finaliste. Vyf onderhoude. Een hoofkarakter.

Ek. 

Hallo. My naam is Monique Bisschoff en ek is die hoofkarakter in die roman, Snydokter, deur Leon van Nierop. Uitgegee deur Lapa Uitgewers. Konsep deur Etiket Brand Design. (Klink soos ‘n AA byeenkoms).

Hierdie hele affêre herinner my aan die fliek Stranger than Fiction met Will Farrell en Emma Thompson in die hoofrolle. ‘n Fliek waarin ‘n boek se hoofkarakter (Farrell) so te sê lewendig raak en direk beïnvloed word deur die skrywer (Thompson) se storielyn. Mmmm... Vreemder as fiksie.
Méér as net fiksie. ‘n Biografie en tog eintlik glad nie. ‘n Roman met ‘n fiktiewe storielyn en karakters, waarvan die hoofkarakter hierdie keer werklik bestaan. Het jy al ooit ‘n boek gelees en na die tyd so half verlore gevoel as die besef stadig insink dat hierdie hoofkarakter, saam met wie jy gelag en gehuil, gevoel en gelééf het, nie werklik bestaan nie? Ek het so gevoel ná Harry Potter. En The Hobbit. En na soveel ander boeke ook... Maar hierdie keer is dit anders. Hierdie keer kan jy ‘n boek lees en na die tyd kan jy gerus voel. Vertroos. Die hoofkarakter leef regtig egtig...

Indien jy tot dusver gedink het dat Leon ‘n storie oor my gaan skryf, sal jy nie die enigste een wees nie. My sussie, Shanelle, skryf op my Facebook-blad dat sy nou wraggies hoogs beïndruk is deur die feit dat Leon van Nierop ‘n boek oor MY, haar Sussique (soos sy my noem – kombinasie van Sussie en Monique) gaan skryf. Ha! Bid jou dit aan ! Nee, sus. Die roman gaan beslis nie oor MY lewe nie! Wie sou dit nou wou lees? Behalwe miskien my ma en pa en Kyle en dalk ‘n paar lojale vriende. En miskien ‘n niksvermoedende tante op Pofadder wat een Saterdag-oggend op Upington die maand se voorraad eiers gaan koop het en toe in die biblioteek per ongeluk die boek uitneem a.g.v die feit dat sy nie haar leesbril ophet nie en dus nie vooraf gewaarsku kon wees nie. Arme Leon sou darem baie moeite insit en Lapa baie kostes aangaan vir ‘n konsep wat  -  sonder veel seremonie en baie skouspelagtig - sou flôp !
Nee, liewe Shanelle. Die roman gaan nie oor my en my lewe nie. Dit is soveel beter: Dit gaan oor Snydokter. En die hoofkarakter, wêna, is ‘n hoofkarakter wat eintlik in werklikheid bestaan. Die karakter sal dus wees: Monique Bisschoff wat gebore is 3 Junie 1983, wat lang bruin hare het en in die Kaap woon. Fiktiewe elemente sal bygevoeg word sodat my lewe dan inval by die storielyn en siedaar: een hengse interessante konsep wat, sover ek verstaan, ‘n eerste vir Suid-Afrika is, en moontlik ook in die wêreld.

En ja, kom ons lieg nou nie vir mekaar nie: ek is ongelooflik-vrek-baie-allesoorheersend-flippen-blêrrie-vreeslik-ontsaglik opgewonde! Dit is vir my ‘n absolute skok en geluk dat EK nou gekies is as die hoofkarakter ! Ek. Gewone ou ekke. Dis nou nie juis asof ek ‘n Mona Lisa geskilder of die lirieke van « All You Need is Love » geskryf het nie; ek het geen wetenskaplike ontdekkings gemaak nie, nie iets soos die wiel ontwerp nie en nog nooit kokaïene in oud-president Nelson Mandela se huis gesnuif nie, ala-Kate Moss. Niemand gaan omgee as ek sonder ‘n bikini bo-stuk ‘n “tan” vang op ‘n seiljag nie – behalwe miskien my ma. Sy sal nogal ietwat vies wees... En niemand gaan twee keer na my kyk as ek op O.R. Tambo met my bagasie rondloop om ‘n vlug te haal nie. Selfs al drá ek my donkerbril binne die gebou...

En tog. Voordat ek geweet het ek is die wenner, noem ek aan my beste vriende Johann, Mario en Wynand, dat ek bang is my lewe is dalk te vervelig vir Leon. Soos een man en asof hul dit as spreekkoor saam geoefen het, kom die antwoord onmiddellik en met baie oortuiging: “O, nee! Daaroor hoef jy nou nie te worry nie. Jou lewe is beslís nie vervelig nie!” Nou ja. Uit drie perde se bekke…

Goed, so kom ek verduidelik hoe dit alles gebeur het : Etiket Brand Design het saam met Lapa Uitgewers en Leon van Nierop gewerk om hierdie konsep op die been te bring. (Ek dink dit was Etiket wat Lapa genader het met die voorstel, maar ek mag verkeerd wees.)
Leon moes ‘n storielyn met al sy kinkels en verwikkelinge uitdink. Hy het self met die idee van Snydokter – soos in plastiese sjirurg – vorendag gekom; reeds al die karakters en gebeurtenisse geskep. Net een ding het nog gekort: die hoofkarakter.
Etiket het dié afdeling behartig. As een van die karakters in Snydokter, is daar op Facebook ‘n Facebook-profiel vir Xander Stroewig, geskep. Jy as deelnemer moes hom bevriend en dan 20 leidrade oor ‘n tydperk van 2 maande oplos wat elemente bevat van wat op die ou einde die voorstorie tot die boek sal vorm. Xander Stroewig is die redakteur van “Netwerk” en jy as deelnemer, was kamma ‘n joernalis wat hom moes help om ‘n storie te ontrafel deur bogenoemde leidrade op te los. Die leidrade het jou na verskillende vorme van digitale media geneem: Facebook, Gmail, video-beeldmateriaal, foonoproepe en nog vele meer. Dit was ontwerp om baie interaktief te wees en deelnemers het spontaan begin kuier en klets op Xander se Facebook-profiel.
Nadat die laaste leidraad opgelos is, was daar een finale opdrag: Jy as ondersoekende joernalis moes nou die leidrade gaan bekyk en dan in ‘n opsomming weergee wat jy dink die storie agter die storie is. So ‘n bietjie “connect-the-dots cum Nancy Drew”. Uit al die inskrywings is vyf finaliste toe gekies: ek, George Kellerman, Rozanne Ru Kotzee, Alexia Vosloo en Lynn van Rooyen.
Een vir een moes ons vyf toe gaan vir ‘n onderhoud met Leon en Lapa Uitgewers waartydens ons vrae gevra en getoets is: ons is geweeg en is nie te lig bevind nie! (Leon het die voorreg behou om, sou hy nie die gewensde hoofkarakter tussen ons vyf vind nie, ander finaliste te kies.)
Daarna het ons in spanning gewag totdat ons verlede week in kennis gestel is wie die wenner is.
My persoonlike ervaring van die kompetisie is as volg:
Ek het uit pure nuuskierigheid en blote toeval begin deelneem. Ek was glad nie eintlik eers bewus van die kompetisie nie en het terloops op ‘n Facebook-vriendin se profiel opgemerk dat sy op ‘n dag ‘n “raaisel in die Lapa Hoofkarakter-Soektog” opgelos het. Kombineer my natuurlike nuuskierige streep met ‘n liefde vir raaisels oplos, en ek klik toe op die skakel. Die skakel het my gelei na Lapa se webblad waarop ‘n video-greep van Leon was waarin hy verduidelik het hoe die kompetisie sou werk. Ek onthou hoe ek nog gedink het: “Jinne, dink net hoe cool sal dít wees!”
Ek was eintlik redelik “laat”. Die ander deelnemers het tot op daardie stadium al elf leidrade opgelos. Ek het weggespring en in ‘n japtrap al elf opgelos. Wat lekker was van die hele besigheid, is dat Etiket die leidrade nou nie so moeilik gemaak het dat Albert Einstein alleen die gedoente sou kon ontsyfer nie: dit was maklik, dog boeiend en het darem dinkwerk gekos. Elke paar dae was daar ‘n nuwe skakel en het “Xander Stroewig” ons in kennis gestel van die nuwe leidraad wat beskikbaar was.
Tussendeur het ek as strooimeisie my enigste sussie se troue vanuit die Kaap help beplan. Ek was ook verantwoordelik vir haar bruidstee wat, soos die geluk dit wou hê, presies ‘n week voor die laaste been van die kompetisie, plaasgevind het in Gauteng. Ek moes opvlieg en het vanuit ‘n sonnige Kaapstad gearriveer in ‘n yskoue Gauteng waar dit net die vorige dag gesneeu het. (Ja, daai einste “sneeustorm” waaraan jy nou dink.) ‘n Bietjie onregverdig as jy my vra, want ek mis toe die historiese sneeu en ervaar net die ongenaakbare koue en vang toe nog ‘n ellendige griep op die koop toe ook! Teen die tyd dat ek ná vier dae in Gauteng terug is Kaap toe, was ek bittersiek en het ek glad nie die lus of energie gehad vir die laaste deel van die kompetisie nie, die skryf van die opsomming. Ek moes ook my sussie se trou-koerant skryf en die “deadline” was die Vrydag. Vir beide opsomming én koerant. Ja, dis reg. My eie ma gee my ‘n deadline. Nou kyk, as jy vir Vanette Bisschoff enigsins ken sal jy wéét: daai vroumens soek ‘n ding deeglik en sy aanvaar nie “maar ek is doodsiek!” verskonings nie! So sit ek toe op daai ellendige Vrydagaand en die koerant lê soos ‘n Tafelberg hier voor my. Ek moet bieg dat ek op daardie stadium eintlik half besluit het om maar nie die laaste deel van die kompetisie mee te maak nie, want “wat is dan nou in elk geval die kans dat ek wen?” en besides, ek was volgens my net hier duskant die graf... (Nee! Natúúrlik oordryf ek nie! Pfff!)

Maak jou reg: hier kom my “corny” kant nou.
Was dit nie vir Kyle (my kêrel) se aansporing nie, sou ek heel waarskynlik nie eers ingeskryf het nie.  (Thanks, my lovest!) Dit was 22:00 die Vrydagaand toe hy my oortuig dat as ek nie ten minste probeer nie, ek altyd daaroor sou wonder en dat ek dit aan myself verskuldig was om op te hou pateties wees en die opsomming te skryf en in te stuur, finish en klaar. Hy het my oortuig en ek het toe vinnig weer na al die leidrade gekyk en my storie sommer so terwyl ek tik, uitgedink en dit 23:00 ingestuur. (Ek is vas oortuig dat ek verseker die laaste deelnemer was wat my opsomming ingestuur het!) Ek het eintlik so half verwag dat hul nie my inskrywing so laat sou aanvaar nie maar dit was darem nog voor twaalf: Aspoestertjie was, helaas, nog nie ‘n pampoen nie!

En nou is dit ‘n maand of wat later en hier sit ek en blog my eerste inskrywing as Hoofkarakter Monique.
Vreemder as fiksie, inderdaad. LEKKERDER as fiksie, beslis!
En môremiddag word my radio onderhoud met Maroela Media opgeneem en Vrydagoggend 9vm doen ek ‘n onderhoud met Radio Namakwaland. Ek is vrek opgewonde en natuurlik doodbenoud dat ek my naam met ‘n sleeper bydam, maar ek gee nie om nie: ek gaan dit doen, ou maat, ek gaan dit dóén!
Terloops, dit is 02:35vm, Donderdag die 4e Oktober 2012 en ek sit en blog in my bed aangesien my brein se af-knoppie nie funksioneer nie.
Maar lyk my dis ‘n goeie tyd vir skryf want julle sal dit nie glo nie: ek is alwéér siek!

Tot volgende keer. Ek hou jul op hoogte.

Adieux.
Monique
Let wel: as ekstra verrassing en omdat Leon so beïndruk was met beide George Kellerman en Rozanne Kotzee, gaan hul ook newe-karakters in Snydokter vorm. Ek wil geensins voorgee dat ek alleen deel van die boek gaan wees nie. Hierdie is egter mý persoonlike blog en dit sal meerendeels gaan om almal op hoogte te hou van wat vorentoe gebeur asook hoe ek alles ervaar en ek wil glad nie die indruk skep dat ek alleen hierdie eer te beurt val nie.

Fluit-fluit: my – wáre! – storie is uit.

2 comments:

  1. Baie geluk dat jy gekies is as wenner van die hoofkarakter-soektog! Ek glo dis 'n ervaring wat jy nog baie lank gaan onthou (en van lees.. hehe)

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Ampertjies-Bettie! Dit is regtig nogal 'n perd van 'n ander kleur...maar in 'n goeie manier! :-) Dankie vir die gelukwensing. Ek geniet dit sover vreeslik. Hopelik lees jy dit ook as die boek eers uit is? En dan laat weet jy my wat jy dink. Groete uit die Kaap. Monique

      Delete

Laat hoor gerus wat jy dink: hou dit skoon en plesierig (soos ons Afrikaners mos maar is!)