Die e-pos, die pil en die van-voor-kyk rokkie.
Dit was ‘n mal Donderdag
- 4 Oktober. Nog een dag van werk en dan vlieg ek Vrydagaand Pretoria
toe om Saterdag die heeldag met Leon by sy huis te spandeer.
Meer as 36 ure sonder slaap, Griet Griep het kom kuier –
práát van ‘n lastige kuiergas wat ongenooid opdaag! – en die druk by die werk
voel soos om oopbek voor ‘n brandslang te staan en te probeer om al die water
af te sluk: onmoontlik, uitmergelend en pleinweg absurd.
Ek loer op my selfoonskerm – terwyl ek gaan piepie, want
daar is EERLIKWAAR geen ander tyd nie! – en daar sien ek die e-pos:
Hallo
Monique
So
tussen die tsunami reklame en werk oor Wolwedans die moewie kom ek uiteindelik
op vir lug. Ek sien jou Saterdag.
Kom
ek verduidelik gou wat ek van jou verwag!
En daar rits Mnr Van Nierop ‘n hele rits opdragte af wat
storielyne-uitdink, inligting-bymekaarmaak, en verbeelding-op-steroids-idees
verg.
Ek verstar en lees weer. My brein voel soos marshmallows
en ek voel of ek nie regtig eintlik bestaan in die huidige oomblik nie – meer soos
iets wat “past tense” geleef het en so half bizar en in die derdepersoon na
myself kyk. Ek lees nog ‘n keer. Dit maak nie sin nie. My brein clutch heeltemal uit, soos Wynand dit
sou stel.
En net daar pak my Tor sy tassies, wuif koebaai en klim
summier van my stokkie af. Want daar, dames en here, daar sit ek toe met ‘n
dilemma: tussen past-tense leef, baie werk, min slaap en siekwees moet ek nou ‘n
keuse maak: Slaap ek? Raak ek gesond? Doen ek my werk? Of skryf ek stories? Ek roep
toe die dokter se hulp in en hy skryf voor: antibiotika, kortisoon, roompies,
salfies – bietjie botox vir die fronsie tussen my oë (Geez, dankie, dr! What a
way to kick me when I’m down!) – en ‘n piepklein pilletjie wat sou help om my
brein af te skakel sodat ek dringende slaap kan inhaal.
Ek kom by die huis en Kyle berei aandete. Nadat ek geëet
het, drink ek die klein blou pilletjie – NIE Viagra nie... Ek sit in
Zombie-gedaante en loer so met ‘n halwe oog en ‘n kwart-breinfunksie na die TV
skerm. ‘n Halfuur later voel dit of ‘n wolkie van geluk my skielik kom optel en
sagkens wegdra om in die voorpoorte van die HEMEL te gaan neerlê!! Ek sink weg
in die diepste, noodsaaklikste slaap wat ek tot op hede nog ervaar het! Ek
slaap deur die nag, deur my werk, deur my noodsaaklike pakkery vir my vlug
Gauteng toe, deur die dag en eintlik deur die grense van enige normale menslike
slaappatrone en word die volgende middag 17:15 wakker.
Ek moet oor ‘n uur by die lughawe wees, maar die pakkery
geskied darem vinnig. Enigste probleem: ek het nooit my takies vir Leon gedoen
nie!
Ons styg op in ‘n yskoue Kaapstad, ek gewapen met pen en
papier. (“Ek kom veg met ‘n P, P, P!”) Missie: my karakter – wat ek is, hoe
vreemd? – moet van ‘n sekere punt in die storie tot by ‘n ander punt kom. Hóé
ek daar kom, is my baba. Ek moet dit uitdink. Om dit te kan regkry, moet ek ‘n
fiktiewe storie oor MYSELF in die derdepersoon skryf, wat ware feite oor myself
bevat en dit op ‘n vliegtuig terwyl ‘n vrou hier langs my sit en BRUL soos ‘n gekwesde
Kalahari-leeu en die vliegtuig kort-kort galop spring en wieg sodat ek
gevaarlik naby aan die Leeu se kwylende bek beweeg. Ek voel so bietjie soos
Daniël-in-die-leeukuil. Ek is net so benoud ook! (Sal ek bid dat hierdie DIER
hier langs my se bek ook gesluit word?, wonder ek.) Wat Sou Daniël Doen?
Beur voort. Skryf van myself in die derdepersoon maar
noem die karakter Kim. Daarsy. Nou gaan dit makliker. My Tor het intussen
verlang en teruggekom, so nou sit ek lekker en dink en skryf so tussen die
geskud en gebrul deur en ewe skielik laat weet die vlieënier dat ons moet
gereedmaak vir land. In my dag des lewens het ‘n 2uur vlug nog NOOIT so vinnig
gevoel nie!
Land in die middel van die Somer – tienuur die aand.
Gelukkig is daar so ‘n oulike knaap met die beste maniere wat aanbied om my sak
te dra. “Jason van Melkbos”, stel hy homself voor. Ons loop al geselsend verby
die twee stokinsekte wat langs hom sit en pruil het die hele vlug lank: ek is
seker ek het die een al iewers op Fashion TV of in ‘n kliniek vir eetversteuring
gesien. Shame. Ek voel so half ek wil haar ietsie voer. En met daai benerige
lyfie lyk die lippe asof dit ‘n eie persoonlikheid en ‘n naam moet hê.
By my ouers se huis aangekom gaan ek dadelik bed toe en
word wakker met ‘n hart wat ‘n “Drumming Circle”-sessie in my borskas aanbied. Ek
is só opgewonde, ek tel amper my ma se vleuelklavier op in ‘n oomblik van
adrenalien-belaaide waansin, maar gaan stort toe eerder en maak myself lekker
vir ‘n Dag met Leon. (Jy moet daai laaste deel nou in so ‘n RSG-stem sê en jou een
wenkbrou ‘n punt na bo trek. Anders kry jy nie die volle effek nie. Ek sê net.)
Om te sê dat ek met my ma se kar en my pa se GPS en MY se
humeur een uitgerekte KRISIS beleef het al die pad Randburg toe, is om dit mooi
te stel. Ek en daai vroumens wat my heeltyd beveel om te “draai dan linksssssss”
sit hewig vas en ek vererg my so bloedig, die “Drumming Circle” sessie is
summier terug en ek BRUL harder as die Oopbek Kalahari-leeu van gisteraand!
Na ‘n gesukkel stop ek in Leon se garage en my magtig,
die man maak vir my koffie en stem my so rustig dat ek binne oomblikke van die
petalje vergeet en voor ek kan sê “Gauteng-is-nie-vir-sissies-nie” is ek en
Leon aan’t skryf en brainstorm en idees optower.
Die dag was vir my ‘n ongelooflike ervaring. Ek het
teruggedink na my kinderdae en my nek gerek om te kyk wat vorentoe nog lê en
wag maar ek kon sweerlik niks aan enige kant gewaar wat kan kersvashou by hoe
spesiaal en besonders die dag was nie!
Ek ontmoet later vir George – die sagmoedige reus met die
maklik-lag oë: vlymskerp en dierbaar. Rozanne arriveer ‘n bietjie later en
alles wat sy sê is net SNAAKS!!! Alles gebeur rondom haar in die oortreffende
trap en ek verstaan presies hoekom Leon haar en George ook in die verhaal wou
inskryf. Na ‘n heerlike sessie en middagete is ons daar weg.
Die aand het ek nog Wolwedans in die Skemer gaan kyk. Die
láátaand-show want ons wou nie die teater deel met té veel siele nie: ek en my
beste pelle Wynand, Mario en Johann. Dis surrealisties: ek kom nou net van Leon
se huis af en hier sit ek en kyk sy fliek! Genugtig! Ek het ‘n paar uur terug
gesit in die einste studeerkamer waar hy hierdie meesterstuk beplan en geskryf
het! (My Tor wil-wil weer so vlug want hy voel weer bietjie oorweldig…)
Nou ja. Terug by my huis in die Mooiste Kaap en terug by
my roetine, maar nou met ‘n EKSTRA lekkerte! (Ek klink so bietjie soos ‘n
advertensie vir babadoeke: Nou met ‘n EKSTRA lekkerte – ingeboude
geurstrokies wat JOU baba se boude na ietsie PIENKS sal laat ruik!)
Die IETSIE PIENKS vir my is nou dit: Elke nou en dan kom
daar ‘n e-pos van Leon af deur met hoofstukke om te redigeer. Ek moet feite
deurgaan, my persoonlikheid inwerk, basies kyk of wat geskryf word eg en waar
en ‘n ware weerspieëling van Monique is. Dit is vir my so lekker soos die Somer
se eerste waatlemoen.
En vanoggend het ek ‘n mooi nuwe rokkie aangetrek werk
toe want, al is dit al 11 Oktober, is die
Somer uiteindelik besig om op die horison aan te kom en ons Kapenaars is ERG
opgewonde! My rokkie het ‘n band net so onder my ribbes en dan klok dit wild
uit na onder. Ek kyk myself so in die spieël en voel heel tevrede. Glad nie
sleg nie! Maar O-my-suster-in-keetmanshoop, as ek omdraai klok die ding so wyd
oor my agterent uit, ek lyk kompleet
soos ‘n wilde Berggans wat nóú gaan opstyg!
En ek dink terug aan Mathilda by die werk wat nou die dag
verduidelik het van ‘n “van-voor-kyk-rokkie”: “Jy moet hom net van voor kyk.
Van voor af lyk hy baie smart. Kyk as jy nou kant toe draai? Nee. En van agter?
Hy werk ôk nie. Nét van voor af. Dit is net ‘n van-voor-kyk-rokkie!”
So koebaai tot volgende keer, ek en my
van-voor-kyk-rokkie:
Adieux
Monique
JY kan self 'n boek skryf. Ek LOVE hoe jy skryf. You go girl!
ReplyDeleteKouevuur! Jy maak my mos nou sommer lekker breed smile, weet jy? Dankie dankie, ek is dankbaar vir wat jy sê. Dalk in die toekoms is daar 'n boek of twee...wie weet? ;-) Groete uit die Kaap. Monique
ReplyDelete