Sunday 20 October 2013

Ek droom van 'n reis

Liewe X

Ek is lief vir die Kaap en bly nou al 'n jaar en 'n half aan hierdie uithoek van die kontinent. Nou onlangs het ons, ons ruim huis aan die Weskus verruil vir 'n beknopte woonstelletjie in Tamboerskloof, so hier teen die hang van Tafelberg. En ja, ons moes spasie inboet maar om so naby aan die stad en die vibe te bly, is uit en uit die moeite werd.

Vandag waai die wind of hy betaal word. Ek sukkel om my af te sluit van sy alto tone wat hier verby ons balkon beur. En dis koud, soos Eugene Marais tereg opgemerk het. Hierdie wind is bleddie skraal. Ons staan al Novembermaand se kant toe en kan jy glo dat ons steeds truie, duvets en baadjies dra?

Ek begin al hoe meer wonder waar my wortels tog lê. My hele lewe lank vermoed ek al dit is diep begrawe in die Wes-Kaap. En dit is moontlik so. Noudat ek hier bly, voel ek tuis en of ek behoort. Al wat ek van die Jakarandastad mis, is die Jakarandas en die mense.

Maar my 30ste verjaarsdag was meer as net 'n ouer-word-ding. My lewe is onder een van daai genadelose spieëls soos in 'n aanpashokkie, geplaas. Alle foute is uitgewys en ek sukkel om dit wat goed is, raak te sien.

Een van die dinge wat my die meeste pla, is om 30 te wees en nog nooit oorsee te gewees het nie. Hoe is dit moontlik? Ek is tog 'n kunstenaarsiel in 'n reisiger se lyf? Ja, ek het al hierdie land van ons platgereis en daar is waarskynlik niks wat my so kan verheug soos om 'n reis te beplan en dan uiteindelik te onderneem nie. Die mense op te soek en te leer ken, die hoekies uit te soek en deur te snuffel nie. Maar ek het net nog nooit die geleentheid gehad om oorsee te gaan nie. En wanneer die geleentheid daar was, was ek of te arm, of te besig.

Ek is al lank onrustig hier in my eie vasteland, kriewelrig. 'n Soortvan wil-hier-wegkom koors wat ek onder lede het. Nou raak dit 'n obsessie. Ek droom nagte om van reise wat Italië en Frankryk insluit. (Dis waar ek die graagste heen wil gaan. Italië was nog altyd 'n droom en deesdae is Frankryk onweerstaanbaar.)

Ek wil boeke lees wat in hierdie mooi lande afspeel, flieks kyk wat vir my die mooiste tonele wys en musiek wat uitsluitlik van hierdie lande afkomstig is, dit wil ek luister.

Plattelandse dorpies, lappe wingerde en olyfboorde met inwoners wat sing as hulle praat. Kleure wat my sintuie nie ken nie. Ek vermoed elke land het sy eie kleurskakerings, asof die kleure vir spesifieke gebiede uit een palet gekies het. My lyf ken dus nog nie die kleure en klanke, die reuke en smake van 'n nuwe land nie? O en in my kop is almal vriendelik en fyn besnaard. Sensitief, waarderend vir die kunste. Almal fassineer my en elkeen het 'n storie. En so sonder regtig verstaan vertel ons stories aan mekaar met handgebare, snorke en geluide wat 'n hele verhaal laat ontvou.

My reis sluit fietsry in. Ek op 'n fiets met 'n mandjie en klokkie wat die wêreld verken. Kyle ry natuurlik saam en omdat hy fikser is, ry hy uitbundig vooruit tot op 'n bult en skree solank vir my wat hy sien, spoor my aan om nog vinniger te trap met die afwagting dat my asem binnekort weggeslaan sal wees wanneer ek die golwe en lyne van 'n Goddelike landskap aanskou. En dan trap ons lustig voort tot by 'n varsprodukte mark waar ons brode, kase, vrugte en groente met die hand uitsoek. Ek ruik aan elke vangs, druk en snuif aan elke produk. Ek sê die Afrikaanse woorde hardop terwyl die goedige Franse verkoper glimlag. Artisjokke. Olyfolie. Ansjovis en tamaties. Woorde wat rol en vloei en die Fransman laat luister na ‘n taal wat hy nie ken nie.

Dan vertrek ons weer en wanneer ons tuis kom, maak ek die kos. Ja, dis reg. Ek kan KOOK in Europa. Hier maak jy nie kos nie, jy berei ‘n maal. Geure en kleure en olies vermeng tot ‘n hemelse eindproduk wat smelt in jou mond en jou wese van ekstase laat bruis. Ons voer mekaar hierdie manna en drink van die wyn waarvan Leonard Cohen dronk geword het toe hy sy mooiste lirieke geskryf het.

Parys. Parys bekoor my. Terwyl ek die eerste keer die Eiffeltoring sien, raak ek aangedaan. Rondom my sal besoekers en inwoners hul normale gang gaan, foto’s neem en besig bly terwyl die wêreld vir my tot stilstand kom. Spesiaal vir my gaan staan Tyd stil. Hou hy sy oppergesaghand omhoog sodat die aarde moet weet om vir ‘n oomblik op te hou draai om sy eie as, die wolke besef dat hul vir ‘n moment nie oor my kop moet gaan nie. Vir ‘n paar hemelse sekondes weet die heelal hoeveel hierdie oomblik vir my beteken en span die uitspansel saam om my oomblik te eerbiedig.

En vir my sal dit’n hele dag neem om die Louvre te gaan besoek. Da Vinci, Delacroix, Manet, Monet… Dit wat ek ‘n leeftyd lank op prentjies, foto’s en in boeke bewonder, gaan ek uiteindelik sonder enige skanse kan sien. Ek sal my tyd neem en elke kubieke sentimeter van die wonder indrink en myself toelaat om te voel wat ek wil.

Soveel beelde dans in my kop rond, van straatkafeetjies en soel aande met liggies en wyn. Hoeveel daarvan akkuraat is, dit weet ek nie. My grootste vrees is dat ek besig is om vir myself ‘n wêreld van oorweldiging in my gedagtes te skep waarby die werklikheid nie sal kan kers vashou nie.


Hoe dit ookal sy, ek droom van ‘n reis. 

2 comments:

  1. Dis lekker om te droom, en veral as reis daarby ingesluit word. As alle drome tog net waar kon word, dan het ek self al die hele wêreld vol gereis. Droom solank jy kan - een van die dae word dit 'n werklikheid.

    ReplyDelete
  2. Ons gaan nog kuier. Rome en Parys is omtrent twee ure se vlieg uitmekaar. ;)
    Milan is nog nader.

    ReplyDelete

Laat hoor gerus wat jy dink: hou dit skoon en plesierig (soos ons Afrikaners mos maar is!)