Tuesday 30 April 2013

Die SILLY in Sylvia, die JOLLY in Johnny


Die SILLY in Sylvia, die JOLLY in Johnny

Ek kom sopas van ‘n geleentheid waartydens die WOORD in al sy gedaantes gevier is. Hierdie geleentheid het homself voorgedoen as ‘n Poetry Reading getiteld “Niks TE diep nie”. Ter nabetragting sal ek moet erken dat ek iets meer dark and brooding verwag het, en ‘n ongeoefende blik sou dalk in een onbewaakte oomblik die situasie assulks sou kon opsom – soveel van de ongekamde hare en donkerraam, oorgrootbrille het ek in ‘n lang tyd nie gewaar nie – en die spulletjie as ‘n Europese anti-iets beweging kon aansien.

Knus tussen die stereotipies en vooropgestelde idees in my kop het daar egter iewers ‘n verdwaalde gedagte kom karring aan my en voordat die aand volbring is deur die Skynmaagde – ek laaik daai viool! – het ek tot die beseffing gekom dat die Depp in Johnny Depp nie noodwendig Depro beteken nie: kunstenaars kan vrolik ook wees! Selfs die digters, die denkers, die hipsters met die weird, selfuitgedinkte name soos “Elsa Pelsjas” en “Willim Welsyn” en weliswaar ook die crowd wat in digte rookwolke byeenkom en mekaar gelukwens op hul vlakke van PRETENSIELOOS-heid, is soms net lekker laf en ligsinnig. Ek kan nou amptelik kom getuig: art is alive and well and having a jolly good time in Cape Town!

Ek is redelik verlig toe ek tot hierdie gevolgtrekking gedwing is: ek is nou eenmaal nie ‘n Virginia Woolf of ‘n Sylvia Plath nie. Ek gebruik nou wel nie ‘n oond vir sy oorspronklike doel nie, maar ek het ook nog nooit my kop voel hunker na ‘n hittige einde nie...

(So terloops: Iets in my binneste wou losskeur vanaand, toe ek tussen woorde en sinne, punte, kommas en uitroeptekens my eie gedagtes gevleueld sien opstyg. Iewers diep binne-in die derms van Kaapstad op die tweede vloer van die Kimberley Hotel wat in al sy lekker zeff-geit net 150 mense op die betrokke vloer kan akkommodeer(!) het ek lewe voel roer wat ontkiem en bevrug gebaar sal moet word: kraampyne, bloed, guts en eerlik rou. Ek sal binnekort die lewe skenk aan my eie woorde.)

5 Dinge wat die aand my geleer het:
1.       ‘n Donkerraam, bleeksielbril oortuig nie as talent nie, en ware talent het dit allermins nodig;
2.       Selfs pretensielose, vrye geeste kan ongeskik aanhou om onderlangs te klets terwyl iemand op ‘n verhoog besig is om te bloei ;
3.       Talent sit nie sommer in elke ou se broek nie. Maar wanneer hy wel in jou broek sit, kan dit in ‘n kortbroek, langbroek, mooi broek of rugbybroek sit. (Talent diskrimineer nie.)
4.       Wanneer ‘n stereotipering hom van jou losmaak, dan is jy waarlik, waarlik vry. (Hoe vinnig droog gesprekke op wanneer jy niemand het om te veroordeel nie?)
5.       Skynmaagde het iets om te vertel, en ek dink hul is deel van die 5 wie se olielampies nie heel vol gebly het nie.

Ek weet nie net of dit is omdat ek elke verkeerslig vanaf die stad se ingewande tot hier op die rotse van Blouberg groen getref het nie, maar my gemoed skilder prentjies. Want hoewel kunstenaars soms brood en broei, is die effek wat ware, rou kuns op jou siel het, altyd net LEKKER!

1 comment:

  1. ek het nou breed gesmile met die lees hiervan ...

    ek hoor wat jy se ... en jy se dit so mooi ..!!

    ReplyDelete

Laat hoor gerus wat jy dink: hou dit skoon en plesierig (soos ons Afrikaners mos maar is!)