Wednesday, 31 October 2012

Flirt met jou Dash!


Flirt met jou Dash!
Vir Gideon.


Geliefdes, ons is vandag hier vergader, om die lewe te onthou van ‘n fenomenale, verruklike, fantastiese vrou wat die verste hoogtes gevier het maar, helaas, voos was teen veertig. Sy het die lewe GELEEF en meer gedoen en ervaar as meeste ander teen 80jarige ouderdom. Dié dat sy nou nie meer met ons is nie. Sy het, liewe broers en susters, haar gô uitgeleef. Ons roep dus nou vaarwel aan… 

Sou dit wees hoe ek koebaai gaan sê ? Live fast, die young. Mmm…ek verstaan die neiging en die begeerte om vinnig en voluit en volop te leef. Maar wraggies: ek wil verkieslik steeds léwendig anderkant uitkom. (Ken jy ook mense wat te vinnig lewe?Live fast, die young and have a beautiful looking corpse. Ja, James Dean. En hoe voel jy nou oor daai stelling?)

‘n Mens kan lewe. ‘n Mens kan nie volop nie. Soos wat ‘n mot kan vlieg maar ‘n vlieg nie kan mot nie. En ek wil darem graag my kleinkinders ontmoet…

Scene 1, take 2 :

Geliefdes, ons is vandag hier vergader, om die lewe te onthou van ‘n fenomenale, verrimpelede, ver-eeude vrou : sy het die lewe beleef en meer gesien en geskrik as meeste ander teen ‘n 102jarige ouderdom. Op haar beleefde manier eers gewag dat die agterkleinkinders darem ook voete-eerste-langboompies toe is, voordat sy so ongeskik kon wees om haar klein koppie neer te lê. Ons roep dus nou vaarwel aan… 

Dis al beter. Maar my lewe sal ook nie so eindig nie. Hoe ouer, hoe wyser en as jy jonk is wil jy nie net vinnig leef nie, maar ook vir altyd. Forever young... Maar ek besef nou dat daar ‘n ouderdom en ‘n fase kom wat eendag vir ons almal wag en – sonder om bang vir die donker en die dood te klink – ek weet nie of ek edel genoeg is om voor te gee dat ek gemaklik is met ‘n uiters oue, afhanklike ouderdom nie. Wie wil nou aan die genade van ‘n masjien oorgelaat word? In elkgeval nie in hierdie land waar Eskom dalk die sleutels van die deur tussen hier en die hiernamaals in hul kloue vashou nie...

Dis natuurlik onmoontlik om te weet hoe die einde van jou lewe hier op die blou-groen ghoen sal wees, om nie eers te praat van “spoiling the surprise!” nie. Dit laat my dink aan Big Fish van Tim Burton waarin hy meesterlik die storie vertel van ‘n man wat ‘n legendariese lewe kon leef juis omdat hy geweet het hoe hy eendag lepel in dak sou steek – dus het niks anders hom ooit bang gemaak nie. Praat van ‘n luukse, genade ons!
Ek  het ‘n liefdevolle obsessie met die Wiskundige reël van Mamma Natuur . Eintlik is dit ‘n kode, ‘n patroon. Die Fibonacci kode. Deur agtertoe te kyk, kan jy ‘n baie noukurige en akkurate voorspelling maak oor wat vorentoe gaan gebeur. Alles gebeur in patrone. Golwend, spiralend, uitklokkend en uitlokkend. En dis maklik. Watter getal sal volgende kom? 4, 6, 8, 10...? 12, natuurlik. En nou? 2, 5, 8, 11... 14! Die uitkoms is maklik om te betaal omdat ons wesens is wat ingestel is om patrone raak te sien en te eien. En dit is omdat patrone ‘n stille berusting en ‘n  tipe beheer bring; as ek tog net altyd – altyd! – in beheer kan wees! En dit is waarom ons aan patrone van die lewe vasgryp asof dit ‘n moeder se rokspante is en vertroosting bied. 
Die Fibonacci kode wat my lewe bepaal. 1, 1, 2, 3, 5, 8, 13, 21, 34, 55... My Parthenon, my Carltonmuseum. My perfekte Mona Lisa smile.
Kyk na die verlede en voltooi die patroon van jou lewe.

“All you get is a dash. 1983 - ? 1983 dash ? What are you doing with your dash?”
“Give your dash to Jesus”
“Live your dash to the fullest.”

Om te begin by die begin, moet ek begin waar my lewe begin en die begin van my lewe begin toe ek gebore is. Charles Dickens het Groot Verwagtinge vir sy lewe gehad – en slim maniere om ‘n terugblik op die lewe te, uhm wel, begin.

Alles begin met ‘n “A”.

Klerksdorp. Bothaville. Pretoria. Kaapstad. Italië? (“Tossie Lochner, Italië.” Wie onthou nog???)

Wat van ‘n avontuur ?

Grootword is nie vir sissies nie. Ook nie vir boeties nie. Ook nie vir mamma’s en pappa’s nie. Ook nie vir witmense nie. Ook nie vir swartmense nie. Grootword is vir die voëls!

Maar grootword is ook onvermydelik. Die een dag is jy nog vyf en trek jy gesigte op jou verjaardagfoto’s met die Raggedy Anne verjaardagkoek en die volgende dag is jy tien en begin jy dink seuntjies is dalk nie so sleg nie. Jy wip van babapop na Barbiepop na Baby Doll make-up. (Kyle noem dit my kap. Soos in: “Het jy jou kap al aangesit, my Koosappel? Ek wil ry.”) en obsessief versamel jy plakkers en herskep jou wêreld in ‘n vlinderfiasko. (O, daai vlinders was so kômmin!)

Dis nou die eerste twee dae van jou lewe. En dit was aand. En dit was môre : die derde dag.

Op die derde dag is jy skielik skuinsbefoeterd. Jy’s dertien jaar lank al hier rond en skielik verstaan jy en die wêreld mekaar aanhoudend verkeerd. Jy sê iets wat jy nie bedoel nie en die wêreld kry seer. Die wêreld sê óók dinge...en dan huil jy weens die Groot Misverstand van neentien-vyf-en-negentig en jy sweer jy sal nooit weer met die wêreld praat nie! Dan vra ‘n outjie jou uit en skielik is die wêreld weer wonderlik en huppel jy en wêreld-om-die-blaas tot by sestien.

Ek wil ‘n geheim deel : die taal van die liefde en romanse is toe al die tyd nié Frans nie ! Ek glo vas in rooiwyn en Italian Crooners. Die taal wat die bloed laat kook van passie. Blood and guts. Rou. Italiaans. Ploffers. Trillers. Skuurklanke. “puh-puh-puh, tr, tr, tr, sht, sht, sht.” Gucci. Fibonacci. Da Vinci.
Op sestien is liefde belangriker vir oorlewing as kos en water en wiskundepunte. En op sewentien wanneer daai liefde verdwyn is die lewe ‘n blurr en skielik op agtien is jy verbaas dat jy tog oorleef het sonder liefde...

En nou staan jy voor ‘n belangrike keuse: wat gaan jy met jou dash doen?
Two roads divergend in the woods...
...and I took the one less travelled by.
And that has made all the differende.”

Miskien had Robert Frost ‘n punt daar beet. Hoekom moet my lewe ander s’n weerspieël? It’s my party and I’ll karaoke if I want to, damn it!
Always do what you are afraid to do.
Ok, Emerson, dit klink belowend en na ‘n uitdaging wat ek dalk kan oorweeg...maar wat as ek bang is? Bang. Ek bang nie koue pampoene nie. Nie hiérdie Dapper Muis nie. Ek bang ook nie donker of die val van die ekonomie nie. Waarvoor ís ek wel bang? Ek is bang vir besies. Enige vlieënde, sotlike gogga met ‘n harde ekso-skelet. Die goed het my al in trane gehad. (Ek het jul gesê ek huil oor alles!) En ek bang onreg. Ek bang ek mis uit. Ek is bang dat ek kleiner dingetjies begin miskyk. Ek is bang ek raak gewoond aan die berg en die see. Ek is bang die magic was af.

Êrens deur my dash ontdek ek die onsterflike kuns van die Beatles. John, Paul, Ringo en George dra my deur my dash en maak van my ‘n denker. Ek ry saam op die Yellow Submarine en vermy maar liefs die Lucy in the Sky with Diamonds. Jonie Mitchell. Sy beskryf so mooi in haar lirieke dat ek saam met Joss Stone wil stem dat ek miskien ‘n era of wat te laat ontstaan het. Hoor hoe beskryf sy ‘n prentjie uit Chelsey Morning

The sun poured in like butterscotch stuck to all my senses
Oh, won’t you stay, we’ll put on a day and we’ll talk in present tenses

Die Rock ‘n Roll legende van seks en drugs is toe nie net mites nie en my helde vou die een na die ander. Hul gedagtes is hoog en so is hul ook. Nare gewoontes. Maar ek laat lei my nie in die versoeking nie en, te danke aan hierdie legends, word ek verlos van die oppervlakkige.

Saam met die Beatles kom Catcher in the Rye – cult classic wat vir soveel inspirasie gesorg het. Sommige meer edel as ander. Holden Caulfield raak my post-teens hero on paper en ek verkondig die evangelie van JD Salinger met groot genot. Moet my nou nie verkeerd verstaan nie: ek’s nie kapabel en moor onder leiding van Caulfield, soos wat Mark Chapman gedoen het nie.
Iewers tussen-in is ek ook nog bekeer tot die Elvis geloof en skielik het ek en ou omies en tantes iets om oor te gesels. Buiten nou die perskereën van neentien-toet en die tyd toe mens nog kon fliek en busry en gaan dans vir 50c. (Mmmm…was nog maar altyd baie skepties oor die een.)
Leonnard Cohen. So long, Marianne. Dit sal speel eendag op my begrafnis. Musiek word my inspirasie, my lewe, my boodskap. Like a bird on a wire like a drunk in his midnight choir, I have tried in my own way to be free.

En so tussen Elvis, die Beatles, Cohen en Caulfield ontvang ek ‘n tikkie wysheid wat my lewe begin bepaal. Ek neem ‘n vriend van my se ouma Little Company of Mary’s toe. Sy kry post-kanker ondersoeke en ek vat haar so al om die ses maande. In die wagkamer kry ek warm. Ek is bedruk en beteuterd oor die bleek gesigte wat oral rondom my sit met lang naalde in maer arms. Wie weet in elkgeval hoe om so ‘n situasie te hanteer?, wonder ek. Vies vir myself dat ek so lomp en oorbodig in hierdie mense se teenwoordigheid voel. Ek besluit om buite te gaan asem skep. Dit hier waar ek toe in Eva vasloop. Letterlik. Sy is ‘n bondeltjie bene. Sy sit op ‘n muurtjie en rook. Ek sien die helder kopband om haar kop, maar sy dra dit nie soos iemand wie se hare uitgeval en nou daaroor selfbewus is nie. Dis gevou om soos ‘n “alice band” oor haar gladde vel te pas. Sy dra haar kaalkop trots en met selfvertroue.  Sigaret in die hand. Sterk kakebeen en ‘n direkte blik wat voor niks wyfel nie. Kyk die lewe braaf in die oë en met houding wat enigiets minder aggressief as kanker summier die hase pad sou laat kies, stert tussen die bene, al tjankend bultaf.
Ek glimlag half verskonend in haar rigting en wonder weereens hoe ek nou moet optree. Ek vermy oogkontak en vind die plante voor my skielik intens interessant... Sy skroom egter geensins en ek kan sien hoedat sy my skaamteloos bestudeer. Kyk my aan. Som my op. Raai my ongemak. En pak my bul by sy horings. “Ou girl”, gooi sy haar opening line. “Laat ek nou vandag vir jou vertel. Die Geheim van Vrouwees: moet nooit vir ‘n man alles vertel nie. ‘n Vrou moet altyd lyk of sy ‘n geheim bewaar. Net vir haarself. Vir haarself en vir haar sanity. En...FLIRT. Flirt met alles. Flirt met die son, flirt met ‘n man, flirt met die lewe. Flirt, ou girl, flirt jou gat af ! Dis al wat ek nog oor het.

Sy’t haar stompie so geskiet dat dit ‘n hiperbool-boog oor die muurtjie trek en sonder om eers in my rigting te kyk, die hospitaal ingedrentel met haar mou wat sy sommer so in die loop oprol, reg vir haar volgende sakkie gif.
Ek weet nie hoekom sy daardie dag met my gepraat het nie. En ek wonder oor die beweegrede vir wat sy gesê het. Was dit omdat sy van alle vroulikheid gestroop is en wou veg vir ‘n tikkie sensualiteit? Elke gewonde leeu wil tog weet dat hy nog kan brul. Miskien was ek net ‘n toevallige gehoor vir iets wat sy eintlik vir haarself wou sê. Ek weet nie eers wat haar naam is nie, maar ek noem haar Eva. Van sy het die wysheid van ‘n duisend vroue en al die vroue voor hulle.

Nou ja. Nou flirt ek. Provocative Woman  - deur Elizabeth Arden.
Ek flirt met idees. Met oomblikke. Met dingetjies en met datjies. Flirt is, soos wat Eva tereg genoem het, al wat jou regtig keer om kop te verloor.
Elke keer wat ek die swart golf voel naderspoel. Wanneer ek verbyster staan voor die onreg, die wreedheid en die vrotheid van hierdie wêreld. Dan onthou ek van die wyse Eva. En dan flirt ek.

“Geliefdes, ons is vandag hier vergader, om die lewe te onthou van....’n vrou.”

Dis al wat ek weet. Daar sal ‘n predikant wees wat “Geliefdes” met ‘n suurgesig gaan sê. Daar sal familielede wees wat swart kispakke aanhet al is dit somer en al is dit al twee winters te klein. Daar sal vriende wees wat eg sal wees in hul rou. En ek sal daar wees in liggaam en So long, Marrianne sal iewers in die agtergrond speel en my hartsmense sal skeef glimlag en verstaan.

En hulle sal my dash oordink en herdenk. Die glorie en die tragedie. Hul sal my dash ontleed en dissekteer en skielik al die slegte vergeet en net die wonderlike onthou. My dash is wat oorbly as soutstandbeeld om my lewe op die blou-groen ghoen te verteenwoordig.

En ek onderneem vandag plegtig, dat ek hul ‘n VERRUKLIKE FANFARE van ‘n dash sal gee om mee te werk! Van nou af! Iets om wraggies huistoe oor te skryf.

Sodat hul agterna kan terugdink en, soos my ouma se oorle’ Ant Delina altyd gemaak het, vir mekaar kan kyk en sê:
“Dit was darem nou vir jou ‘n héérlike begrafnis!”



In Memoriam: Gideon Louw. My vriend. Vir wie ek mis.

2 comments:

  1. girlfriend - jy kan en mag maar skryf ... jy het talent - big time ..!!

    ReplyDelete

Laat hoor gerus wat jy dink: hou dit skoon en plesierig (soos ons Afrikaners mos maar is!)