Friday 26 October 2012

'n Skrywe van trane en woorde en vere.


Ek huil. As iets mooi is. Dan huil ek.

En ek praat nie van ‘n gevoelvolle traan wat nat en blink teen my wang afbiggel nie. Huh-uh.Aikona. Snot en trane. Verwoed. Lyk soos iets wat ‘n mens nie direk en sonder ‘n spieël moet aanskou nie, ingeval jy dalk in klip verander…

Ek kan oor enigiets huil. Jy moet my net ‘n hálwe kans gee, ou matta, en ek kan vir jou ‘n traan uitpak van hier af tot in volgende week! My familie en nabye mense weet al: as iets net wíl-wíl emosioneel raak, dan swaai hul koppe almal soos een man om en verlustig hulle hulself in my verkreukelde gevreet wat spuit soos ‘n munisipaliteitkraan wat uiteindelik deurgeroes het.

Enigiets kan my afset. Advertensies. Mooi oomblikke. (Oprah-oomblikke, noem ek hulle.) Wanneer iemand hul drome bereik of as die wenner uit een of ander stryd tree. Op Extreme Makeover Home Edition wanneer daai hees aanbieder skree: “Bus driver, MOVE THAT BUS!” dan grens ek tog te lustig saam met die oorstelpte en ietwat histeriese gesin.
 Beethoven se Moonlight Sonata het my klokslag in trane. Daar is iets aan daardie eenvoudige, amper-treurige melodie wat in my hart kom sit en laat verlang na oop ruimtes, die maan en om alleen te wees.

Woorde kan my ook laat huil. En ek praat nie van gesproke woorde wat afbreek en seermaak en wond nie. Vandat ek kan onthou is ek ontroerd deur woorde. Mooi woorde. Ek het ‘n hele paar gunstelingwoorde, soos “koester” en “flater” en “papawer”. Bv. “Ek het ‘n flater begaan deur my wasgoed aan die draad te vergeet toe dit begin reën en toe ek daarvan onthou en opspring om buitentoe te hol, koester ek teen die trap af en val my papawer plat.”

En ander kere roer woorde diep, sluimerende emosies binne-in my siel. Maak dit my bewus van die diepte en krag waarmee ek kan vóél. Mooi gedigte. Mooi aanhalings. Woorde wat beskryf. Woorde wat inspireer, wat heel, wat troos en wat inkleur. Het jy al ooit “A Moveable Feast” van Hemingway gelees? Hoor hoe wek hy beelde op deur bloot woorde in die regte volgorde inmekaar te ryg sodat dit uiteindelik ‘n vloeiende entiteit word wat selfs ‘n blinde kan laat beleef wat Hemingway hier voor hom sien:
“A girl came in the cafe and sat by herself at a table near the window. She was very pretty with a face fresh as a newly minted coin if they minted coins in smooth flesh with rain-freshened skin, and her hair black as a crow's wing and cut sharply and diagonally across her cheek.”
En Hemingway het verstaan hoe woorde en beelde en emosies hand-aan-hand stap en -  as dit reg vervleg is -  iets in jou kan wakkermaak deur dit net te lees:

“You expected to be sad in the fall. Part of you died each year when the leaves fell from the trees and their branches were bare against the wind and the cold, wintery light. But you knew there would always be the spring, as you knew the river would flow again after it was frozen. When the cold rains kept on and killed the spring, it was as though a young person died for no reason.”

Ek huil wanneer ek dit lees want dit maak my bewus van ‘n lewe wat ek nog nie geleef het nie en ek raak bang dat ek in die malle gejaag van elke dag té veel mooi mis wat ek nooit weer sal kan inhaal nie.

Ek en Kyle het in Januarie vanjaar ‘n roadtrip gedoen wat ons gevat het van die Oos-Kaap, deur die Karoo al langs Roete 62 tot in die Wes-Kaap en weer terug. Ons het onsself vooraf oopgestel vir die mooi van elke oomblik. Ons het besluit om elke oomblik met ‘n volle bewustheid te beleef, geheel-en-al uitgekoop vir en teenwoordig in die oomblik. Dit is immers al manier hoe jy kan kry dat ‘n alledaagse gebeurtenis omtower word tot iets wat veraltyd in jou siel kom sit. Wanneer jy iets met jou siel beleef, dan maak dit alles in die wêreld beter; dan sien jy kans vir die nuwe wat nog moet kom en weet jy dat alles die moeite werd is.

Nou ja. Hier sit ek nou weer en huil. En weereens is ek nie hartseer nie. Ek is gelukkig. Ek is só gelukkig! Omdat ek storieboekliefde gevind het wat ek nie kan verklaar nie en wat my asem wegslaan…

Kyle.

Dít wat vir Adam toegelaat het om vir Eva te vergewe ná sy so misgevat het met daai ellendige reptiel; dít wat ‘n ou verrimpelde omie toelaat om sy geplooide nooi 65 jaar later stééds te sien as die mooiste meisie in die kontrei; dit wat vir Boerneef opgesluit lê in ‘n berggansveer…

Die berggans het ‘n veer laat val
Van die hoogste krans by Woeperdal
My hart staan tuit al meer en meer
Ek stuur vir jou die berggansveer
Mits dese wil ek vir jou sê
Hoe diep my liefde vir jou lê

Dís wat ek het. Ek en Kyle. En ek wil vir hom al die berggansvere gee. Al die skulpe en blare wat moeë ou bome al in ‘n sug laat val het en die klippies van ‘n duisend riviere wat deur die jare se gekabbel tot ronde, koue monumente van liefde gevorm het.

Dink jy nie ook iemand wat sy alewig-yskoue hande uit pure bedagsaamheid eers met ‘n haardroeër warm maak voordat hy aan jou raak, is iemand wat ‘n berggansveer verdien nie?

Soos ek laasweek geskryf het: ek moes vir my hartsmense vra om ‘n beskrywing van my as persoon te gee vir Leon om my beter te leer ken. Ek het ‘n totaal van 12 bladsye ontvang van 4 mense wat vir my lief is, wat my verstaan en begryp. In al my glorie. In al my swakheid.

En dit het my laat huil. Van geluk. Want my mense kén my. En hulle is lief vir my. Nie ter wille van nie. Ten SPYTE van.

Ek hoop dat jy ook mense het wat jou ken en steeds liefhet.

2 comments:

  1. Ai, uiteindelik jou nuutste gelees, nou's ek amper sommer ook in trane. Welgedaan! :-)

    ReplyDelete
  2. my word - jy sal mos nou dat ek in die ugly cry ingaan met hierdie skrywe van jou ... ek is ook 'n huiler and i totally get you ...

    en ek is ook so super gelukkig om so 'n man te he ... ons moet elke dag dankie se.

    ReplyDelete

Laat hoor gerus wat jy dink: hou dit skoon en plesierig (soos ons Afrikaners mos maar is!)