Wednesday 14 November 2012

Hoofkarakter in die Hemel

‘n Hoofkarakter in die Hemel

Het jy al ooit met ‘n geheim gesit wat jy moet inhou, maar wat jou binnegoed sit en opvreet soos wat ‘n garage-pie sooibrand nie kan nie? ‘n Geheim wat net moet uit, maar dit mag nie. Dis hoe groot geheime en sappige skinderstories werk.
Ek sit hier in Bloubergstrand met ‘n geheim so groot soos Tafelberg (Duiwelspiek, Leeukop en Seinheuwel inkluis) en ek kan jul nie eers vertel wat dit is nie ! Hier’s ‘n geborrel in my wat deur Rennie, Gasviscon of medisyne-maat koeksode gestuit kan word nie en ek moet tjoepstil bly.
 MAAR, ek mag darem een ou makou uit die hok vrylaat: Die boek is klaar! Snydokter is geskryf en die drukkery begin eersdaags. Ek mag egter natuurlik nie sê wat alles in die boek gebeur nie en jy hoef my net 15 minute te ken om te weet ek is maar bra power wanneer dit kom by opgewondenheid inhou. Om te sê ek sukkel om my opgewondenheid te beteuel, is soos om te sê dat die Atlantiese oseaan natter raak wanneer dit reën.

Nou ja. Leon het vir my die hoofstukke nou weer van voor af so stuk-stuk begin deurstuur en ons maak nou seker al die feite is korrek en dat ek darem tevrede is met hoe ek in die boek uitgebeeld word. Weet jy hoe vreemd is dit om van jouself in ‘n storie te lees? Dis seker hoe Hollywood akteurs moet voel as hul hulself so op die Groot Skerm sien. Ek wonder net altyd hoe voel ‘n aktrise, soos bv. Kate Winslet, se pa as hy haar nou so in ‘n film soos The Reader moet sien. Sy was darem maar meer kaalbas en tussen die lakens in daai fliek as wat Steve Hofmeyr in sy hele lewe altesaam was! Kan pa en dogter mekaar ooit weer in die oë kyk?

So van groot skerm gepraat: ‘n Mens hoor baie van persone wat “near death experiences” gehad het. Mense wat ‘n oomblik beleef het waar hul ‘n tonnel, ‘n lig en ‘n engelekoor ervaar het. (My siniese Standerd 3 onnie, Ou Haakneus, het altyd beweer daai lig aan die einde van die tonnel is al die tyd net die duiwel met ‘n flitslig.)
Kort-kort verskyn daar nuwe bewerings van mense wat kan hoog (en laag) sweer dat hul in die hemel was. Hul beskryf die strate van goud, die vrede, die lig en die engele –  hele katoet.

Ek kan nou ook saampraat. Ek was nou self so ’n rukkie terug ‘n Hoofkarakter in die Hemel.

So twee weke terug stuur Leon vir my die nuutste hoofstuk om deur te werk. Ek maak die e-pos by die werk oop. Gewoonlik skryf die liewe man altyd so ‘n kort boodskappie by in die e-pos waaraan die hoofstuk geheg is. Hierdie keer laat weet hy die volgende:

So terloops. Ek is vanaf Donderdag in die Paarl. Ek is Saterdagaand in ‘n vertoning saam met Laurika Rauch te sien in LAURIKA EN VRIENDE.

Net daar raak gaat ek aan’t bewe soos ‘n alkoholis by ‘n sondagskoolpiekniek. Ek gee so ‘n klein plesierige gilletjie en al my kollegas sowel as my bestuurder swaai om soos ‘n hond wat die posbode jaag maar vergeet hy’s aan ‘n paal vasgemaak. “Nee”, stel ek hul teleur, ‘n onstellende skakering pienk in die gesig, “ek het nie sopas ‘n kandidaatplasing gemaak nie. Ek is net plein opgewonde.” Kyk: ek is ‘n sentimentele ou. Jy kan my in ‘n wip vang met beloftes van geelperskes en Laurika Rauch. Sy laat my dink aan my kinderdae, tye wat sterk na geluk ruik. Voeg vir ou Leon by en ek sal daar uitslaan soos ‘n nare rash. Ek en Leon besluit om na afloop van die vertoning te ontmoet – hy wil graag vir Kyle ook ontmoet. Ek en Kyle en Geraldine koop ons kaartjies en (ek) tel die slapies af soos toe ek ‘n kind was. Ek is gaande oor  Laurika en Geraldine is ook ‘n getroue aanhanger. Kyle is Engels en, ten spyte van die feit dat hy nie juis veel van Laurika weet nie, sing hy gereeld (onwetend) een van haar liedjies vir my: elke keer op pad huistoe  van die werk af, wanneer ons so reg langs die see verby ry, sing hy in ‘n teatrale operastem, luid en bars en sonder enige skaamte:
 “Ons het ‘n huisie by die seeeeeeeeee, dis DAG!”

 Ja. DAG. Nie nag nie. Hier skyn die son immers nog lánk na die res van die land al voor die T.V. lê en werktuigkundig en ingedagte kou aan hul verlepte brocoli en halfgaar mikrogolfoond-etes.

Uiteindelik breek die dag van die konsert aan ! Ek was nog nooit in die Paarl nie, maar die oomblik wat ons daardie driedimensionele poskaart binne ry, weet ek: hierdie is nog ‘n stukkie aarde waar ‘n deeltjie van my hart gaan agterbly. Alles wat ek vooraf van die Paarl gedink het, blyk onwaar te wees. My oë soek stof, maar vind net groenigheid. Oral waar daar moes kômmin wees is nou net pragtige tuinhekkies en emmersvol eenvoudige elegansie. Dis ‘n plekkie wat enige aap wat ‘n taal magtig is tot poësie sal dryf.  
Ons ry tot by die Taalmonument waar die konsert in die Amfiteater plaasvind en kry (ten spyte van derduisende motors) net hier voor die ingang parkering. Ek moet net keer of my lippe rek reg rondom my kop, so breed smile ek. Ek is ‘n lucky charm wanneer dit by parkeerplek kom – huur my gerus hierdie Krismis as jy by ‘n besige sentrum gaan inkopies doen...my blote teenwoordigheid verseker ‘n parkeerplek reg voor die ingang!
Kyle neem foto’s van my waar ek so breed glimlag dit lyk of ek ‘n groenmielie tussen my lippe vasknyp. Ons kry ons sitplekke en ek en Geri sit af opsoek na wyn.
Iets in die atmosfeer laat my siel huppel. Daar is net iets wat gebeur wanneer duisende Afrikaners bymekaarkom in die opelug, ‘n energie wat deur almal bruis en wat vreemdelinge, opstêrs  en kômmin, vir mekaar laat glimlag en sommer lukraak met mekaar laat gesels. Dit is ‘n magiese gevoel wat nie in woorde omsitbaar is nie.
Ek het ‘n rokkie aan - so ‘n Audry-Blignaut-rooi ene en terwyl ek en Geri loop wyn koop, hoor ek skielik ‘n wildvreemde man agter my sing “Dans met die rooi rok...” Ek glimlag skeef en huppel verder.

Die son begin sak. Dis naderhand ag-uur en feitlik heeltemal donker, toe die ligte verdoof en Mnr Van Nierop homself op die verhoog verskyn. Soos wat Jak de Priester deur ‘n grappie tereg verwys: Leon is die eintlike Taalmonument. Hy heet almal welkom op sy innemende, gevatte wyse. Ek let op hoe mooi hy woorde uitspreek. Woorde val in sy mond soos koelronde klippies wat gemaklik en glad in ‘n waterstroom plons. Kan jy dink hoe mooi ‘n gesprek tussen hom en Riaan Cruywagen moet klink? Leon kondig vir Laurika aan en ek hou my asem in... Nog ‘n legende gaan nou oor daai verhoog uitstap!

Sy kom opgestap en terwyl die eerste akkoorde van Blouberg se Strand onder dawerende applous ontvang word. Die musikale inleiding sterf weg en sy gee haar eerste note:

Die golwe weet waar breek die branders
Hulle dink hulle’s vry

My liggaam is oortrek met hoendervel waarop ‘n blinde boeke vol sal kan lees. O hel, besef ek. Dis neusie-verby met my! Die volskaalse MOOI is eenvoudig veels te veel om te hanteer en almal wéét teen die tyd wat gebeur met my as iets mooi is…

Jip, dis reg. Trane. Ek gaan aan’t ween soos ‘n koshuismoeder aan die begin van ‘n nuwe kwartaal. Heeltemal onnodig maar totaal en al onkeerbaar.

Sug.

Die aand voer my tot reg in die hemel. Verby die pearly gates tot binne in in die voorste rye van ‘n koorbankie vol engele. Ek besef weer hoe baie ek hou van woorde. Van sang. Van self sing. Van luister en van meegevoer raak deur musiek.

Jy kry twee tipe mense: die’s wat na ‘n konsert kyk en dink sjoe, dit was nou mooi. En die’s wat na ‘n vertoning kyk en besef dat jou lewe nooit weer dieselfde sal wees nie. Dis asof al die vrot en drek van die lewe skielik agter skanse van vrede en liefde verdwyn. Op daardie oomblik gee jy nie om oor die (L)onmin op Marikana nie. Tussen die refreine en die koorgedeeltes vergeet jy dat die vallei by De Doorns brand en na trane ruik. Net vir ‘n rukkie is die wêreld ‘n vlekkelose, spierwit plek waar Asiatiërs weet dat renosterhorings net ‘n doel dien as dit nog aan die renoster sit; ‘n plek waar sirkusse en olifante wat truuks doen verban word; ‘n plek waar spookasem nog smelt in jou mond en konfyt net in botteltjies te kry is. Mooi. Rein. Skoon. Lieflik. Hemels.

Dis die wêreld waarin ek wil leef. Die een Monique leef in die regte wêreld. Die Hoofkarakter-Monique leef op papier. Maar vir die regte-egte Monique se behoud is daar mense wat hul lewe daaraan wy om konsert te hou wat haar wegvoer van die nare hier en die wrede nou. En sy dank haar sterre daarvoor.

Daar is baie dinge in die lewe wat my bang maak. Krismisbesies, koorsblare en Kelley Osbourne se kuite. Maar wat my die bangste maak is ‘n wêreld sonder teater en konserte.

The show must, after all, go on.

1 comment:

  1. ahhhh monique, dis soooooo beautiful ... het elke woord geniet ..!!

    ReplyDelete

Laat hoor gerus wat jy dink: hou dit skoon en plesierig (soos ons Afrikaners mos maar is!)