Monday 11 February 2013

Flessies met lintjies om


Flessies met lintjies om

Nou ja. So is ons dan nou in die tweede maand van die Nuwe Jaar. Die groot 2013. 2013. Twee nul een drie. Vier syfers wat om een of ander rede so intimiderend vir my loer.

2013. Dit laat dink my aan daai flieks, daai saaifaai-moewies wat jy gekyk het toe jy klein was waarin aliens die planeet oorgeneem en die lewe soveel anders was as wat jy ooit sou kon droom. Of Beyond 2000. Onthou jy nog daai program? Waarin hul altyd voorgestel het hoe dit in Die Toekoms gaan lyk. Beelde en voorstellings van hoe mense met vreemde gedoentes gaan rondvlieg oor stede en geboue heen, hoe ons gaan omgaan met allerhande vreemde skepsels met genoeg arms om ‘n tannie by die jaffel-tafel by ‘n NG Kerk bazaar jaloers te maak en klein sakkies met vreemde poiertjies in wat vir jou sommer so woerts-warts kos optower as jy dit net natgooi. Of so iets.

Dit het my altyd vreeslik bang gemaak. Nie die monsters of die vlieënde dinge nie, nee.
Wat my altyd so verward en angstig gemaak het, was die veronderstelling dat die mens alles wat hom menslik en mens gemaak het, so maklik sou prysgee ten koste van gemak en tegnologie en vooruitgang. Want nêrens in hierdie flieks of programme was daar ooit enigsins sprake van gesinne rondom tafels onder koeltebome, hard aan’t stry oor watter Rugbyspane nou eintlik die beste is terwyl die vrouens allerhande koue slaaie en warm brode opdien, nie. Nie in een fliek wys dit pa’s wat tuine natlei of kinders wat met vuil voete al agter ‘n skuimbesmeerde hond in die gang afhol, al skreeuende, terwyl die ma skelmpies aan ‘n bottel halfjack  suie wat sy agter die pakkie Omo in die kombuiskas uithaal, nie. Alles is so van menslikheid en deernis gestroop dat ek destyds prôpperse ritteltits gekry het net by die gedagte daaraan...

Wat is dit in elkgeval wat ons menslik maak? Wat is dit wat ons behoud moet wees wat ons onderskei van dier en vreemde wesens? As ons lewens eensklaps moet verander in een van Steven Spielberg se voorstellings van Die Toekoms, wat sou jy die meeste mis? Wat is dit wat van JOU mens maak. Mens wat lag en gelukkig is.
Ek het hierdie afgelope vakansie weer so baie van my passies en liefdes ontdek: party daarvan so groot dat jy jou drome daarrondom kan bou, ander so klein, dit kom in flessies met lintjies om.

Ek het ‘n ding besef: mens moet doen waarvoor jy lief is. Jy moet elke dag sorg dat een van jou vele veeleisende en veelvuldige take iets bevat wat jou vervul. Ek noem dit die VVV: Veelvuldig, Veeleisend, maar Vervullend. (Hoe’s daai nou vir ‘n nuwe begrip agter Vreemde Vlieënde Voorwerpe?)
Die probleem is, dat jy heelwaarskynlik alreeds jou lewenspad so uitgetrap het, dat omdraaikans nie meer ‘n opsie is nie. Jy is dalk al so doer ver op dieselfde pad aan’t stap, dat jy nou maar uithou en aanhou en teen willens en wetens in hoop dat daar waar jy uitkom dit darem nie te goor sal wees nie.
En jy stap voort. Want wie draai dan nou in elkgeval net sommerso om? As jy reeds ‘n sekere punt verby is, is daar ander mense wat staatmaak op jou dat jy jou hoed en jou wandelstaf moedig vasklou en dan maar teen wil en dank voortstrompel. Ek loop die pad al lank my lam.
G’n wonder die kerke is leeg en die malhuise vol soos wat mense sit en wroeg nie. Mens raak mal van ongelukkig wees. Mal as jy nie meer agter jou Droom aanstap nie. Van menslikheid gestroop. Van dinge beroof waaroor jy kon glimlag, jou tong kon klik en jou oë hemelwaarts draai terwyl jy “Tipies!” prewel, kon huil of kon drome droom.

En miskien is my eie wroegings vandag die resultaat van die feit dat ek vanjaar 30 word.  30. Drie, nul.


Lewe – 3;  Monique - 0.


 So voel dit vir my. Nou kyk, ‘n mens raak óf opgewonde wanneer jy 30 tref, óf jy raak so diep-tot-in-jou-siel-in-bedroef en benoud dat jy dokter toe jaag vir ‘n herhalingsvoorskrif van een of ander pilletjie wat begin met ‘n “X”... 


Of dalk wroeg ek omdat die die Nuwe Jaar is. Mens wroeg en dink en wonder mos maar altyd so aan die begin van ‘n nuwe jaar, nie waar nie? Nuwejaarsvoornemens, beloftes, drome, verspeelde kanse... Want met elke vars blik op die toekoms en die nuwe uitdagings en geleenthede wat dit gaan bied, is mens mos maar altyd meer bewus van die uitdagings en geleenthede wat jou verby is en hul nooit weer voor jou deur sal aandoen nie. En wat het jy met die twee kuiergaste, Uitdagings en Geleenthede gemaak? So selde nooi ons hul in vir ‘n feesmaal en die vetgemaakte kalf. Te gereeld word hul weggewys en gevra om later terug te keer, wanneer jy “meer gereed” of” voorbereid” is. (Ek weet voor my heilige siel dat die tweetjies al menigtermaal hier by my voor dooiemansdeur moes omdraai, onverrigter sake opweg na iemand, iewers, wat hul eerder sal innooi en laat tuis voel...)


Of miskien wroeg ek net omdat Leonard Cohen al vir dae lank in die agtergrond draal terwyl ek dink en besin oor die lewe.

Maar ek het nou genoeg gewroeg en gesweet: of jy nou al lank stap, Rooies, met ‘n pad wat lank en swaar voor jou uitgestrek lê en of jy nou eers onlang ‘n verkeerde afdraaipad geneem het, jy kan steeds verdomp blêrrie bly wees, man! Geluk hang van JOU af, of jy nou kan omdraai en agter jou Droom aanstap en of jy moet aanstap, maak nie saak nie: jy kan jou eie pad gelukkig maak.

Mens maak net so: Jy besef wat dit is wat jou laat bly en gelukkig voel en jy inkorpereer dit dan in jou daaglikse bestaan. Soms is dit die heel eenoudige dingetjies, die flessies konfyt met die lintjies om, wat die madeliefies langs jou paadjie is. En hoe weet jy wat is JOU madeliefies? My geheim om dit uit te klaar, is dat ek my lewe voorstel in Die Toekoms soos in een van Steven Spielberg se prente, gestroop van alles wat ek ken, alles wat ek nou op my paadjie het – goed sowel as sleg! – en dan vra ek myself die vraag: wat is die dingetjies wat ek sal mis?

Die geur van butternut sop op ‘n koue wintersaand. Rooiwyn voor ‘n vuur wat knetter terwyl jy jou in ‘n boek verdiep en die klanke van Joni Mitchell in jou hart kom sit. Ruitveërs wat so sjwiep-sjwiep oor die ruit in ‘n magtige Transvaalse reënbui. Die 7 skakerings groen in my tuin. Die Kaapse wind wat al langs Strandstraat die mense in hul artsy-huisies in laat beur, laggende meisies wat hul rokkies vasklou en hoopvolle manne wat loer terwyl die laggende meisies hul rokkies vasklou... 

Ek sal tuisgemaakte konfyt in mooi flessies mis, die's met die lintjies om. Koeksisters en melktert met kaneel wat sommer soos stof op die bleeklekkerte gaan lê. Huisgodsdiens in die aande voor almal bed toe verkas – ‘n rare verskynsel eie aan Suid-Afrikaanse gesinne. ‘n Dakwaaier en muskiete om jou te herinner jy woon in ‘n Derdewêreldland. ‘n Grasvlakte en ‘n rooi son wat sak om jou te herinner jy woon in Afrika.
‘n Skulp teen my oor wanneer ek na die see verlang; sagte, wit pantoffels wanneer jy uit die bad klim. Twee klein troeteldiertjies vir wie jy absoluut álles in die lewe is! 

Maak seker jy doen elke dag iets wat jou laat glimlag. Nooi die madeliefies in jou huis in, in jou lewe in. Gooi jou deure oop vir Uitdaging en Geleentheid. Maak ‘n afspraak met oomblikke wat lintjies omhet en leer om fyn ingestel op die lewe te bly.

Dis so maklik soos dit. Die mens se menslikheid lê opgesluit in Menswees: menswees in al sy fasette. Nostalgie is ‘n emosie wat menslikheid aanroer en aanwakker. As jy oor niks meer nostalgies raak nie, moet jy gevaarligte sien flikker...

En, as jy nou regtig sukkel om te lag of die snaaks in enige situasie te sien, dink gerus aan my in die volgende, ware scenario:
Ek het in die afgelope 10 dae 6 pare skoene gebreek. Elke keer by die werk. Elke keer ten volle aanskoue van die kantoor. Elke keer in my pikante kantoorpakkie terwyl ek volspoed afpyl op die fotostaatmasjien/boardroom/kombuis. 6 pare. AL my pare. Flenters Stukkend. GAAR. Die 6e paar was, in fact, SPLINTERNUUT en net twee dae oud! Toe die laaste, nuutste paar groet, was die kantoor en al die dames en manne histeries en in trane soos wat hul lag. Geen mate van verduideliking of regverdiging kan verby SES PARE STUKKENDE SKOENE kom nie. Ek het verleë en bloedrooi op my een hak en my ander hakskeen, moedig deur die dag gebeur en probeer om nie die snorke en histerie rondom my raak te sien nie.

Maar maak nie saak hoe hard ek daarteen probeer stry nie. Op ‘n dag staar die waarheid mens mos maar vierkantig in die, wel, voet: al die versnaperinkies - in flessies met mooi lintjies om, let wel - waaraan ek so lustig meegedoen het die vakansie, het nou saam met my moed tot in my skoene gesak. 6 pare van hulle.

Ek is dus nou op pad winkels toe vir nog ‘n paar skoene (oefentekkies) en ‘n Zumba DVD. Na dese sal hier elke aand tussen 6 en 7, lustig ge-Samba, ge-Ramba en ge-blerrie-MAMBA word hier in ons huis in Bloubergstrand – ek sal alles doen wat ek moet, maar wanneer ek volgende maand by die Woordfees saam met Leon gesels oor Snydokter, sal ek my skoene nommerpas - net reg en sonder onnodige druk van my derriere - vol kan staan. ;-)

Sien jul by die Woordfees, 9 Maart.






1 comment:

  1. sjoe sjoe sjoe - dis nou 'n lekker lees gewees - jy mag maar hoor ..!!

    en dankie - dit is vir my bevestiging van dinge in my lewe. ek word hierdie jaar 40 en jy 30 ... so kan ons almal by mekaar leer ... ;)

    ReplyDelete

Laat hoor gerus wat jy dink: hou dit skoon en plesierig (soos ons Afrikaners mos maar is!)