Hoofkarakter skenk geboorte
Ek wou nog altyd skryf. Woorde is vir my ‘n lekkerte, soos
wat ander mense rook of drink of swiets vriet. Ek hou daarvan om na woorde te
luister, na woorde te kyk, woorde te hoor, te proe, neer te skryf en selfs te
voel. Ek gaar stories in my kop op, stories wat ek hoor én stories wat ek
opmaak. Ek dra nog altyd hierdie gewaarwording in my saam, een wat vir my skree
“You can run all you want, but you can’t hide!” Al doen ek ook wát, daar sal
altyd ‘n hunkering in my bly na skryf. Ek het nog altyd geweet daar’s ‘n storie
in my wat moet uit.
Op skool kon ek nie vinnig genoeg hol, ver genoeg spring of
doele sekuur genoeg skiet nie; ek was nie die beste sangeres in die koor nie en
ek het nie baie akademiese pryse gewen nie. (Ek het, in fact, net EEN gewen. Ek
dink my ma ly nou nog aan skok dat hul hoegenaamd my naam in my matriekjaar
uitgelees het, mind you.)
Maar liewe dinges, ek kon skryf. Enigiets. Sonder moeite en
sonder om daaroor te wonder. Vir die meeste ander kinders om my was
opstelskrywery ‘n hengse krisis. Vir my was dit ‘n plesier! Iets waarnaa ek die
meeste uitgesien het.
Weens vrese en ‘n wanpersepsie van Die Toekoms het ek nooit die
durf gehad om dit voltyds aan te pak nie. Maar ‘n droom is ‘n droom is ‘n droom.
Is ‘n boom wat gewortel lê, diep in jou binneste, wat jy nie sommer uitgeroei
kan kry nie, maak nie saak watter tipe gif jy gooi nie!
En vandag skop ek Vrees en Angs onder sy gat: ek begin
vandag skryf aan my manuskrip. Ek weet nie hoe dit gaan uitdraai en wat in Die
Toekoms lê en wag nie. Al wat ek weet, is dit:
The pen is mightier than the sword…en van vandag af kom ek
veg met ‘n P, P, P!
Te danke aan Hoofkarakter-Soektog het ek met baie mense in
aanraking gekom wat my in die regte rigting kon
help. Deur die blootstelling is ek in aanraking gebring met Madri van der Walt (kry info hier) wie se skryfkursus ek nou bywoon. Gister was ons eerste klas in ‘n 6
maande lange kursus. Een van die oefeninge was dat ons na ‘n poskaart moes kyk
en binne 15 minute ‘n storie/greep uit ‘n storie moes skryf. Jy kon enigiets
skryf, solank die einde die leser sou wou laat verder lees.
My poskaart het ‘n swart en wit beeld van ‘n reënerige
straat in die aand bevat. Hierdie was my poging:
Ek kyk in die spieël.
Ek loop nie net verby met ‘n vinnige blik na myself wat my opsom nie. Nie soos
ek maar maak noudat die jare my lyf verander het nie. Nee. Ek staan stil. Ek kýk
regtig. Ek wil myself weer sién. Ek wil kyk of daar nog iets, iewers tussen die
blaaie van my lyf lê wat ons storie vertel. Ons storie in Parys, toe jy my lyf
gelees het.
Daardie somer het
Parys pens-en-pootjies binne-in ons lywe kom klim. Ons lywe was sterk en gesond
en meestal in mekaar vasgegroei. “Ons Parys”, het ons dit genoem. Ons kon dae
lank soos verspotte karakters in die hitte van die son rondflenter. Koffie
drink in soveel kafeetjies terwyl ons, onsself wou doodlag oor alles. Nagte
lank wyn gedrink en sigarette gerook en gefilosofeer oor dinge wat ons eintlik
nie verstaan het nie.
Die dae het korter en
die nagte al langer geword. Die eens helder straatjies het geleidelik meer
intens geword. Intens koud. Intens donker. Intens hartseer.“Ons Parys” was
skielik ‘n jaloerse minnares wat om elke hoek en draai wou tweedrag bring en
onmin saai.
In dieselfde magiese
stad waar Hemmingway leer liefkry het, het ek geleer hoe die son uit my lyf kan
klim.
Dit was soveel dekades
gelede. En nou staan ek hier met ‘n poskaart in my hand.
Van jou af.
Noudat ek die gedeelte weer lees, is daar baie wat ek wil
verander: byvoeg, wegvat, snoei en knip. Maar ek los hom net so.
Rou en eerlik.
Hulle sê om ‘n boek te skryf is dieselfde as om geboorte te
skenk. Net so pynlik, hard, traumaties, maar verbysterend bevredigend.
So, hier gaat ek nou. Ek is swanger met ‘n storie en ek is
al lankal verby my due-date: Hoofkarakter gaan geboorte skenk!
YIKES!!!
do it, do it, do it - want jy kan ..!!
ReplyDeleteons almal het mos maar verskillende smaak en ek 'scan' maar altyd so oor party mense se skryfwerk, maar met joune wil ek elke woord lees ... ;)