Briewe en Rooiwyn
Ek drink rooiwyn en skryf briewe. Lees saam. Drink saam. Ek skryf vir niemand spesifiek nie. Miskien skryf ek vir 'n berg...
Tuesday, 18 February 2020
Sunday, 20 October 2013
Ek droom van 'n reis
Liewe X
Ek is lief vir die Kaap en bly nou al 'n
jaar en 'n half aan hierdie uithoek van die kontinent. Nou onlangs het ons, ons
ruim huis aan die Weskus verruil vir 'n beknopte woonstelletjie in
Tamboerskloof, so hier teen die hang van Tafelberg. En ja, ons moes spasie
inboet maar om so naby aan die stad en die vibe te bly, is uit en uit die
moeite werd.
Vandag waai die wind of hy betaal word. Ek
sukkel om my af te sluit van sy alto tone wat hier verby ons balkon beur. En
dis koud, soos Eugene Marais tereg opgemerk het. Hierdie wind is bleddie skraal.
Ons staan al Novembermaand se kant toe en kan jy glo dat ons steeds truie,
duvets en baadjies dra?
Ek begin al hoe meer wonder waar my
wortels tog lê. My hele lewe lank vermoed ek al dit is diep begrawe in die Wes-Kaap.
En dit is moontlik so. Noudat ek hier bly, voel ek tuis en of ek behoort. Al
wat ek van die Jakarandastad mis, is die Jakarandas en die mense.
Maar my 30ste verjaarsdag was meer as net
'n ouer-word-ding. My lewe is onder een van daai genadelose spieëls soos in 'n
aanpashokkie, geplaas. Alle foute is uitgewys en ek sukkel om dit wat goed is,
raak te sien.
Een van die dinge wat my die meeste pla,
is om 30 te wees en nog nooit oorsee te gewees het nie. Hoe is dit moontlik? Ek
is tog 'n kunstenaarsiel in 'n reisiger se lyf? Ja, ek het al hierdie land van
ons platgereis en daar is waarskynlik niks wat my so kan verheug soos om 'n
reis te beplan en dan uiteindelik te onderneem nie. Die mense op te soek en te
leer ken, die hoekies uit te soek en deur te snuffel nie. Maar ek het net nog
nooit die geleentheid gehad om oorsee te gaan nie. En wanneer die geleentheid
daar was, was ek of te arm, of te besig.
Ek is al lank onrustig hier in my eie
vasteland, kriewelrig. 'n Soortvan wil-hier-wegkom koors wat ek onder lede het.
Nou raak dit 'n obsessie. Ek droom nagte om van reise wat Italië en Frankryk
insluit. (Dis waar ek die graagste heen wil gaan. Italië was nog altyd 'n droom
en deesdae is Frankryk onweerstaanbaar.)
Ek wil boeke lees wat in hierdie mooi
lande afspeel, flieks kyk wat vir my die mooiste tonele wys en musiek wat
uitsluitlik van hierdie lande afkomstig is, dit wil ek luister.
Plattelandse dorpies, lappe wingerde en olyfboorde met inwoners
wat sing as hulle praat. Kleure wat my sintuie nie ken nie. Ek vermoed elke
land het sy eie kleurskakerings, asof die kleure vir spesifieke gebiede uit een
palet gekies het. My lyf ken dus nog nie die kleure en klanke, die reuke en
smake van 'n nuwe land nie? O en in my kop is almal vriendelik en fyn besnaard.
Sensitief, waarderend vir die kunste. Almal fassineer my en elkeen het 'n
storie. En so sonder regtig verstaan vertel ons stories aan mekaar met
handgebare, snorke en geluide wat 'n hele verhaal laat ontvou.
My reis sluit fietsry in. Ek op 'n fiets
met 'n mandjie en klokkie wat die wêreld verken. Kyle ry natuurlik saam en
omdat hy fikser is, ry hy uitbundig vooruit tot op 'n bult en skree solank vir
my wat hy sien, spoor my aan om nog vinniger te trap met die afwagting dat my
asem binnekort weggeslaan sal wees wanneer ek die golwe en lyne van 'n
Goddelike landskap aanskou. En dan trap ons lustig voort tot by 'n varsprodukte
mark waar ons brode, kase, vrugte en groente met die hand uitsoek. Ek ruik aan
elke vangs, druk en snuif aan elke produk. Ek sê die Afrikaanse woorde hardop
terwyl die goedige Franse verkoper glimlag. Artisjokke. Olyfolie. Ansjovis en
tamaties. Woorde wat rol en vloei en die Fransman laat luister na ‘n taal wat
hy nie ken nie.
Dan vertrek ons weer en wanneer ons tuis kom, maak ek die kos. Ja,
dis reg. Ek kan KOOK in Europa. Hier maak jy nie kos nie, jy berei ‘n maal.
Geure en kleure en olies vermeng tot ‘n hemelse eindproduk wat smelt in jou
mond en jou wese van ekstase laat bruis. Ons voer mekaar hierdie manna en drink
van die wyn waarvan Leonard Cohen dronk geword het toe hy sy mooiste lirieke
geskryf het.
Parys. Parys bekoor my. Terwyl ek die eerste keer die Eiffeltoring
sien, raak ek aangedaan. Rondom my sal besoekers en inwoners hul normale gang
gaan, foto’s neem en besig bly terwyl die wêreld vir my tot stilstand kom.
Spesiaal vir my gaan staan Tyd stil. Hou hy sy oppergesaghand omhoog sodat die
aarde moet weet om vir ‘n oomblik op te hou draai om sy eie as, die wolke besef
dat hul vir ‘n moment nie oor my kop moet gaan nie. Vir ‘n paar hemelse
sekondes weet die heelal hoeveel hierdie oomblik vir my beteken en span die
uitspansel saam om my oomblik te eerbiedig.
En vir my sal dit’n hele dag neem om die Louvre te gaan besoek. Da
Vinci, Delacroix, Manet, Monet… Dit wat ek ‘n leeftyd lank op prentjies, foto’s
en in boeke bewonder, gaan ek uiteindelik sonder enige skanse kan sien. Ek sal
my tyd neem en elke kubieke sentimeter van die wonder indrink en myself toelaat
om te voel wat ek wil.
Soveel beelde dans in my kop rond, van straatkafeetjies en soel
aande met liggies en wyn. Hoeveel daarvan akkuraat is, dit weet ek nie. My
grootste vrees is dat ek besig is om vir myself ‘n wêreld van oorweldiging in
my gedagtes te skep waarby die werklikheid nie sal kan kers vashou nie.
Hoe dit ookal sy, ek droom van ‘n reis.
Tuesday, 30 April 2013
Die SILLY in Sylvia, die JOLLY in Johnny
Die SILLY in
Sylvia, die JOLLY in Johnny
Ek kom sopas van ‘n geleentheid waartydens die WOORD in al
sy gedaantes gevier is. Hierdie geleentheid het homself voorgedoen as ‘n Poetry
Reading getiteld “Niks TE diep nie”. Ter nabetragting sal ek moet erken dat ek
iets meer dark and brooding verwag het, en ‘n ongeoefende blik sou dalk
in een onbewaakte oomblik die situasie assulks sou kon opsom – soveel van de
ongekamde hare en donkerraam, oorgrootbrille het ek in ‘n lang tyd nie gewaar
nie – en die spulletjie as ‘n Europese anti-iets beweging kon aansien.
Knus tussen die stereotipies en vooropgestelde idees in my
kop het daar egter iewers ‘n verdwaalde gedagte kom karring aan my en voordat
die aand volbring is deur die Skynmaagde – ek laaik daai viool! – het ek tot
die beseffing gekom dat die Depp in Johnny Depp nie noodwendig Depro beteken
nie: kunstenaars kan vrolik ook wees! Selfs die digters, die denkers, die
hipsters met die weird, selfuitgedinkte name soos “Elsa Pelsjas” en “Willim
Welsyn” en weliswaar ook die crowd wat in digte rookwolke byeenkom en mekaar
gelukwens op hul vlakke van PRETENSIELOOS-heid, is soms net lekker laf en ligsinnig. Ek
kan nou amptelik kom getuig: art is alive and well and having a jolly good time
in Cape Town!
Ek is redelik verlig toe ek tot hierdie gevolgtrekking
gedwing is: ek is nou eenmaal nie ‘n Virginia Woolf of ‘n Sylvia Plath nie. Ek
gebruik nou wel nie ‘n oond vir sy oorspronklike doel nie, maar ek het ook nog
nooit my kop voel hunker na ‘n hittige einde nie...
(So terloops: Iets in my binneste wou losskeur vanaand, toe
ek tussen woorde en sinne, punte, kommas en uitroeptekens my eie gedagtes
gevleueld sien opstyg. Iewers diep binne-in die derms van Kaapstad op die
tweede vloer van die Kimberley Hotel wat in al sy lekker zeff-geit net 150
mense op die betrokke vloer kan akkommodeer(!) het ek lewe voel roer wat
ontkiem en bevrug gebaar sal moet word: kraampyne, bloed, guts en eerlik rou. Ek
sal binnekort die lewe skenk aan my eie woorde.)
5 Dinge wat die aand my geleer het:
1.
‘n Donkerraam, bleeksielbril oortuig nie as talent
nie, en ware talent het dit allermins nodig;
2.
Selfs pretensielose, vrye
geeste kan ongeskik aanhou om onderlangs te klets terwyl iemand op ‘n verhoog
besig is om te bloei ;
3.
Talent sit nie sommer in elke ou se broek nie. Maar
wanneer hy wel in jou broek sit, kan dit in ‘n kortbroek, langbroek, mooi broek
of rugbybroek sit. (Talent diskrimineer nie.)
4.
Wanneer ‘n stereotipering
hom van jou losmaak, dan is jy waarlik, waarlik vry. (Hoe vinnig droog
gesprekke op wanneer jy niemand het om te veroordeel nie?)
5.
Skynmaagde het iets om te vertel, en ek dink hul is deel van die 5 wie se olielampies nie heel vol gebly het nie.
Ek weet nie net of dit is omdat ek elke verkeerslig vanaf
die stad se ingewande tot hier op die rotse van Blouberg groen getref het nie,
maar my gemoed skilder prentjies. Want hoewel kunstenaars soms brood en broei,
is die effek wat ware, rou kuns op jou siel het, altyd net LEKKER!
Sunday, 17 February 2013
Hoofkarakter skenk geboorte
Hoofkarakter skenk geboorte
Ek wou nog altyd skryf. Woorde is vir my ‘n lekkerte, soos
wat ander mense rook of drink of swiets vriet. Ek hou daarvan om na woorde te
luister, na woorde te kyk, woorde te hoor, te proe, neer te skryf en selfs te
voel. Ek gaar stories in my kop op, stories wat ek hoor én stories wat ek
opmaak. Ek dra nog altyd hierdie gewaarwording in my saam, een wat vir my skree
“You can run all you want, but you can’t hide!” Al doen ek ook wát, daar sal
altyd ‘n hunkering in my bly na skryf. Ek het nog altyd geweet daar’s ‘n storie
in my wat moet uit.
Op skool kon ek nie vinnig genoeg hol, ver genoeg spring of
doele sekuur genoeg skiet nie; ek was nie die beste sangeres in die koor nie en
ek het nie baie akademiese pryse gewen nie. (Ek het, in fact, net EEN gewen. Ek
dink my ma ly nou nog aan skok dat hul hoegenaamd my naam in my matriekjaar
uitgelees het, mind you.)
Maar liewe dinges, ek kon skryf. Enigiets. Sonder moeite en
sonder om daaroor te wonder. Vir die meeste ander kinders om my was
opstelskrywery ‘n hengse krisis. Vir my was dit ‘n plesier! Iets waarnaa ek die
meeste uitgesien het.
Weens vrese en ‘n wanpersepsie van Die Toekoms het ek nooit die
durf gehad om dit voltyds aan te pak nie. Maar ‘n droom is ‘n droom is ‘n droom.
Is ‘n boom wat gewortel lê, diep in jou binneste, wat jy nie sommer uitgeroei
kan kry nie, maak nie saak watter tipe gif jy gooi nie!
En vandag skop ek Vrees en Angs onder sy gat: ek begin
vandag skryf aan my manuskrip. Ek weet nie hoe dit gaan uitdraai en wat in Die
Toekoms lê en wag nie. Al wat ek weet, is dit:
The pen is mightier than the sword…en van vandag af kom ek
veg met ‘n P, P, P!
Te danke aan Hoofkarakter-Soektog het ek met baie mense in
aanraking gekom wat my in die regte rigting kon
help. Deur die blootstelling is ek in aanraking gebring met Madri van der Walt (kry info hier) wie se skryfkursus ek nou bywoon. Gister was ons eerste klas in ‘n 6
maande lange kursus. Een van die oefeninge was dat ons na ‘n poskaart moes kyk
en binne 15 minute ‘n storie/greep uit ‘n storie moes skryf. Jy kon enigiets
skryf, solank die einde die leser sou wou laat verder lees.
My poskaart het ‘n swart en wit beeld van ‘n reënerige
straat in die aand bevat. Hierdie was my poging:
Ek kyk in die spieël.
Ek loop nie net verby met ‘n vinnige blik na myself wat my opsom nie. Nie soos
ek maar maak noudat die jare my lyf verander het nie. Nee. Ek staan stil. Ek kýk
regtig. Ek wil myself weer sién. Ek wil kyk of daar nog iets, iewers tussen die
blaaie van my lyf lê wat ons storie vertel. Ons storie in Parys, toe jy my lyf
gelees het.
Daardie somer het
Parys pens-en-pootjies binne-in ons lywe kom klim. Ons lywe was sterk en gesond
en meestal in mekaar vasgegroei. “Ons Parys”, het ons dit genoem. Ons kon dae
lank soos verspotte karakters in die hitte van die son rondflenter. Koffie
drink in soveel kafeetjies terwyl ons, onsself wou doodlag oor alles. Nagte
lank wyn gedrink en sigarette gerook en gefilosofeer oor dinge wat ons eintlik
nie verstaan het nie.
Die dae het korter en
die nagte al langer geword. Die eens helder straatjies het geleidelik meer
intens geword. Intens koud. Intens donker. Intens hartseer.“Ons Parys” was
skielik ‘n jaloerse minnares wat om elke hoek en draai wou tweedrag bring en
onmin saai.
In dieselfde magiese
stad waar Hemmingway leer liefkry het, het ek geleer hoe die son uit my lyf kan
klim.
Dit was soveel dekades
gelede. En nou staan ek hier met ‘n poskaart in my hand.
Van jou af.
Noudat ek die gedeelte weer lees, is daar baie wat ek wil
verander: byvoeg, wegvat, snoei en knip. Maar ek los hom net so.
Rou en eerlik.
Hulle sê om ‘n boek te skryf is dieselfde as om geboorte te
skenk. Net so pynlik, hard, traumaties, maar verbysterend bevredigend.
So, hier gaat ek nou. Ek is swanger met ‘n storie en ek is
al lankal verby my due-date: Hoofkarakter gaan geboorte skenk!
YIKES!!!
Monday, 11 February 2013
Flessies met lintjies om
Flessies met lintjies om
Nou
ja. So is ons dan nou in die tweede maand van die Nuwe Jaar. Die groot 2013.
2013. Twee nul een drie. Vier syfers wat om een of ander rede so intimiderend
vir my loer.
2013.
Dit laat dink my aan daai flieks, daai saaifaai-moewies wat jy gekyk het toe jy
klein was waarin aliens die planeet oorgeneem en die lewe soveel anders was as
wat jy ooit sou kon droom. Of Beyond 2000. Onthou jy nog daai program? Waarin
hul altyd voorgestel het hoe dit in Die Toekoms gaan lyk. Beelde en voorstellings
van hoe mense met vreemde gedoentes gaan rondvlieg oor stede en geboue heen,
hoe ons gaan omgaan met allerhande vreemde skepsels met genoeg arms om ‘n
tannie by die jaffel-tafel by ‘n NG Kerk bazaar jaloers te maak en klein
sakkies met vreemde poiertjies in wat vir jou sommer so woerts-warts kos
optower as jy dit net natgooi. Of so iets.
Dit
het my altyd vreeslik bang gemaak. Nie die monsters of die vlieënde dinge nie,
nee.
Wat
my altyd so verward en angstig gemaak het, was die veronderstelling dat die mens alles wat hom menslik en mens gemaak het, so maklik sou prysgee ten koste
van gemak en tegnologie en vooruitgang. Want nêrens in hierdie flieks of
programme was daar ooit enigsins sprake van gesinne rondom tafels onder
koeltebome, hard aan’t stry oor watter Rugbyspane nou eintlik die beste is
terwyl die vrouens allerhande koue slaaie en warm brode opdien, nie. Nie in een
fliek wys dit pa’s wat tuine natlei of kinders wat met vuil voete al agter ‘n
skuimbesmeerde hond in die gang afhol, al skreeuende, terwyl die ma skelmpies
aan ‘n bottel halfjack suie wat sy agter
die pakkie Omo in die kombuiskas uithaal, nie. Alles is so van menslikheid en
deernis gestroop dat ek destyds prôpperse ritteltits gekry het net by die
gedagte daaraan...
Wat
is dit in elkgeval wat ons menslik maak? Wat is dit wat ons behoud moet wees
wat ons onderskei van dier en vreemde wesens? As ons lewens eensklaps moet
verander in een van Steven Spielberg se voorstellings van Die Toekoms, wat sou
jy die meeste mis? Wat is dit wat van JOU mens maak. Mens wat lag en gelukkig
is.
Ek
het hierdie afgelope vakansie weer so baie van my passies en liefdes ontdek:
party daarvan so groot dat jy jou drome daarrondom kan bou, ander so klein, dit
kom in flessies met lintjies om.
Ek
het ‘n ding besef: mens moet doen waarvoor jy lief is. Jy moet elke dag sorg dat
een van jou vele veeleisende en veelvuldige take iets bevat wat jou vervul. Ek
noem dit die VVV: Veelvuldig, Veeleisend, maar Vervullend. (Hoe’s daai nou vir
‘n nuwe begrip agter Vreemde Vlieënde Voorwerpe?)
Die
probleem is, dat jy heelwaarskynlik alreeds jou lewenspad so uitgetrap het, dat
omdraaikans nie meer ‘n opsie is nie. Jy is dalk al so doer ver op dieselfde
pad aan’t stap, dat jy nou maar uithou en aanhou en teen willens en wetens in
hoop dat daar waar jy uitkom dit darem nie te goor sal wees nie.
En
jy stap voort. Want wie draai dan nou in elkgeval net sommerso om? As jy reeds
‘n sekere punt verby is, is daar ander mense wat staatmaak op jou dat jy jou
hoed en jou wandelstaf moedig vasklou en dan maar teen wil en dank
voortstrompel. Ek loop die pad al lank my lam.
G’n
wonder die kerke is leeg en die malhuise vol soos wat mense sit en wroeg nie.
Mens raak mal van ongelukkig wees. Mal as jy nie meer agter jou Droom aanstap
nie. Van menslikheid gestroop. Van dinge beroof waaroor jy kon glimlag, jou
tong kon klik en jou oë hemelwaarts draai terwyl jy “Tipies!” prewel, kon huil
of kon drome droom.
En
miskien is my eie wroegings vandag die resultaat van die feit dat ek vanjaar 30
word. 30. Drie, nul.
Lewe
– 3; Monique - 0.
So voel dit vir my. Nou kyk, ‘n mens raak óf
opgewonde wanneer jy 30 tref, óf jy raak so diep-tot-in-jou-siel-in-bedroef en
benoud dat jy dokter toe jaag vir ‘n herhalingsvoorskrif van een of ander
pilletjie wat begin met ‘n “X”...
Of
dalk wroeg ek omdat die die Nuwe Jaar is. Mens wroeg en dink en wonder mos maar
altyd so aan die begin van ‘n nuwe jaar, nie waar nie? Nuwejaarsvoornemens,
beloftes, drome, verspeelde kanse... Want met elke vars blik op die toekoms en
die nuwe uitdagings en geleenthede wat dit gaan bied, is mens mos maar altyd
meer bewus van die uitdagings en geleenthede wat jou verby is en hul nooit weer
voor jou deur sal aandoen nie. En wat het jy met die twee kuiergaste, Uitdagings
en Geleenthede gemaak? So selde nooi ons hul in vir ‘n feesmaal en die
vetgemaakte kalf. Te gereeld word hul weggewys en gevra om later terug te keer,
wanneer jy “meer gereed” of” voorbereid” is. (Ek weet voor my heilige siel dat
die tweetjies al menigtermaal hier by my voor dooiemansdeur moes omdraai,
onverrigter sake opweg na iemand, iewers, wat hul eerder sal innooi en laat
tuis voel...)
Of
miskien wroeg ek net omdat Leonard Cohen al vir dae lank in die agtergrond
draal terwyl ek dink en besin oor die lewe.
Maar
ek het nou genoeg gewroeg en gesweet: of jy nou al lank stap, Rooies, met ‘n
pad wat lank en swaar voor jou uitgestrek lê en of jy nou eers onlang ‘n
verkeerde afdraaipad geneem het, jy kan steeds verdomp blêrrie bly wees, man!
Geluk hang van JOU af, of jy nou kan omdraai en agter jou Droom aanstap en of
jy moet aanstap, maak nie saak nie: jy kan jou eie pad gelukkig maak.
Mens
maak net so: Jy besef wat dit is wat jou laat bly en gelukkig voel en jy
inkorpereer dit dan in jou daaglikse bestaan. Soms is dit die heel eenoudige
dingetjies, die flessies konfyt met die lintjies om, wat die madeliefies langs jou
paadjie is. En hoe weet jy wat is JOU madeliefies? My geheim om dit uit te klaar, is dat ek my lewe
voorstel in Die Toekoms soos in een van Steven Spielberg se prente, gestroop
van alles wat ek ken, alles wat ek nou op my paadjie het – goed sowel as sleg!
– en dan vra ek myself die vraag: wat is die dingetjies wat ek sal mis?
Die
geur van butternut sop op ‘n koue wintersaand. Rooiwyn voor ‘n vuur wat knetter
terwyl jy jou in ‘n boek verdiep en die klanke van Joni Mitchell in jou hart
kom sit. Ruitveërs wat so sjwiep-sjwiep oor die ruit in ‘n magtige Transvaalse
reënbui. Die 7 skakerings groen in my tuin. Die Kaapse wind wat al langs
Strandstraat die mense in hul artsy-huisies in laat beur, laggende meisies wat
hul rokkies vasklou en hoopvolle manne wat loer terwyl die laggende meisies hul
rokkies vasklou...
Ek
sal tuisgemaakte konfyt in mooi flessies mis, die's met die lintjies om. Koeksisters en
melktert met kaneel wat sommer soos stof op die bleeklekkerte gaan lê.
Huisgodsdiens in die aande voor almal bed toe verkas – ‘n rare verskynsel eie
aan Suid-Afrikaanse gesinne. ‘n Dakwaaier en muskiete om jou te herinner jy
woon in ‘n Derdewêreldland. ‘n Grasvlakte en ‘n rooi son wat sak om jou te
herinner jy woon in Afrika.
‘n Skulp teen my oor wanneer ek na die see verlang; sagte, wit pantoffels wanneer jy uit die bad klim. Twee klein troeteldiertjies vir wie jy absoluut álles in die lewe is!
‘n Skulp teen my oor wanneer ek na die see verlang; sagte, wit pantoffels wanneer jy uit die bad klim. Twee klein troeteldiertjies vir wie jy absoluut álles in die lewe is!
Maak
seker jy doen elke dag iets wat jou laat glimlag. Nooi die madeliefies in jou
huis in, in jou lewe in. Gooi jou deure oop vir Uitdaging en Geleentheid. Maak
‘n afspraak met oomblikke wat lintjies omhet en leer om fyn ingestel op die
lewe te bly.
Dis so maklik soos dit. Die mens se
menslikheid lê opgesluit in Menswees: menswees in al sy fasette. Nostalgie is
‘n emosie wat menslikheid aanroer en aanwakker. As jy oor niks meer nostalgies
raak nie, moet jy gevaarligte sien flikker...
En,
as jy nou regtig sukkel om te lag of die snaaks in enige situasie te sien, dink
gerus aan my in die volgende, ware scenario:
Ek het in die afgelope 10 dae 6 pare skoene
gebreek. Elke keer by die werk. Elke keer ten volle aanskoue van die kantoor.
Elke keer in my pikante kantoorpakkie terwyl ek volspoed afpyl op die
fotostaatmasjien/boardroom/kombuis. 6 pare. AL my pare. Flenters Stukkend. GAAR.
Die 6e paar was, in fact, SPLINTERNUUT en net twee dae oud! Toe die laaste,
nuutste paar groet, was die kantoor en al die dames en manne histeries en in
trane soos wat hul lag. Geen mate van verduideliking of regverdiging kan verby
SES PARE STUKKENDE SKOENE kom nie. Ek het verleë en bloedrooi op my een hak en
my ander hakskeen, moedig deur die dag gebeur en probeer om nie die snorke en
histerie rondom my raak te sien nie.
Maar
maak nie saak hoe hard ek daarteen probeer stry nie. Op ‘n dag staar die
waarheid mens mos maar vierkantig in die, wel, voet: al die versnaperinkies -
in flessies met mooi lintjies om, let wel - waaraan ek so lustig meegedoen het
die vakansie, het nou saam met my moed tot in my skoene gesak. 6 pare van
hulle.
Ek
is dus nou op pad winkels toe vir nog ‘n paar skoene (oefentekkies) en ‘n Zumba
DVD. Na dese sal hier elke aand tussen 6 en 7, lustig ge-Samba, ge-Ramba en
ge-blerrie-MAMBA word hier in ons huis in Bloubergstrand – ek sal alles doen
wat ek moet, maar wanneer ek volgende maand by die Woordfees saam met Leon
gesels oor Snydokter, sal ek my skoene nommerpas - net reg en sonder onnodige
druk van my derriere - vol kan staan. ;-)
Sien
jul by die Woordfees, 9 Maart.
Wednesday, 14 November 2012
Hoofkarakter in die Hemel
‘n Hoofkarakter in die Hemel
Het jy al ooit met ‘n geheim gesit wat jy moet inhou, maar wat jou binnegoed sit en opvreet soos wat ‘n garage-pie sooibrand nie kan nie? ‘n Geheim wat net moet uit, maar dit mag nie. Dis hoe groot geheime en sappige skinderstories werk.
Ek sit hier in Bloubergstrand met ‘n geheim so groot soos Tafelberg (Duiwelspiek, Leeukop en Seinheuwel inkluis) en ek kan jul nie eers vertel wat dit is nie ! Hier’s ‘n geborrel in my wat deur Rennie, Gasviscon of medisyne-maat koeksode gestuit kan word nie en ek moet tjoepstil bly.
MAAR, ek mag darem een ou makou uit die hok vrylaat: Die boek is klaar! Snydokter is geskryf en die drukkery begin eersdaags. Ek mag egter natuurlik nie sê wat alles in die boek gebeur nie en jy hoef my net 15 minute te ken om te weet ek is maar bra power wanneer dit kom by opgewondenheid inhou. Om te sê ek sukkel om my opgewondenheid te beteuel, is soos om te sê dat die Atlantiese oseaan natter raak wanneer dit reën.
Nou ja. Leon het vir my die hoofstukke nou weer van voor af so stuk-stuk begin deurstuur en ons maak nou seker al die feite is korrek en dat ek darem tevrede is met hoe ek in die boek uitgebeeld word. Weet jy hoe vreemd is dit om van jouself in ‘n storie te lees? Dis seker hoe Hollywood akteurs moet voel as hul hulself so op die Groot Skerm sien. Ek wonder net altyd hoe voel ‘n aktrise, soos bv. Kate Winslet, se pa as hy haar nou so in ‘n film soos The Reader moet sien. Sy was darem maar meer kaalbas en tussen die lakens in daai fliek as wat Steve Hofmeyr in sy hele lewe altesaam was! Kan pa en dogter mekaar ooit weer in die oë kyk?
So van groot skerm gepraat: ‘n Mens hoor baie van persone wat “near death experiences” gehad het. Mense wat ‘n oomblik beleef het waar hul ‘n tonnel, ‘n lig en ‘n engelekoor ervaar het. (My siniese Standerd 3 onnie, Ou Haakneus, het altyd beweer daai lig aan die einde van die tonnel is al die tyd net die duiwel met ‘n flitslig.)
Kort-kort verskyn daar nuwe bewerings van mense wat kan hoog (en laag) sweer dat hul in die hemel was. Hul beskryf die strate van goud, die vrede, die lig en die engele – hele katoet.
Ek kan nou ook saampraat. Ek was nou self so ’n rukkie terug ‘n Hoofkarakter in die Hemel.
So twee weke terug stuur Leon vir my die nuutste hoofstuk om deur te werk. Ek maak die e-pos by die werk oop. Gewoonlik skryf die liewe man altyd so ‘n kort boodskappie by in die e-pos waaraan die hoofstuk geheg is. Hierdie keer laat weet hy die volgende:
So terloops. Ek is vanaf Donderdag in die Paarl. Ek is Saterdagaand in ‘n vertoning saam met Laurika Rauch te sien in LAURIKA EN VRIENDE.
Net daar raak gaat ek aan’t bewe soos ‘n alkoholis by ‘n sondagskoolpiekniek. Ek gee so ‘n klein plesierige gilletjie en al my kollegas sowel as my bestuurder swaai om soos ‘n hond wat die posbode jaag maar vergeet hy’s aan ‘n paal vasgemaak. “Nee”, stel ek hul teleur, ‘n onstellende skakering pienk in die gesig, “ek het nie sopas ‘n kandidaatplasing gemaak nie. Ek is net plein opgewonde.” Kyk: ek is ‘n sentimentele ou. Jy kan my in ‘n wip vang met beloftes van geelperskes en Laurika Rauch. Sy laat my dink aan my kinderdae, tye wat sterk na geluk ruik. Voeg vir ou Leon by en ek sal daar uitslaan soos ‘n nare rash. Ek en Leon besluit om na afloop van die vertoning te ontmoet – hy wil graag vir Kyle ook ontmoet. Ek en Kyle en Geraldine koop ons kaartjies en (ek) tel die slapies af soos toe ek ‘n kind was. Ek is gaande oor Laurika en Geraldine is ook ‘n getroue aanhanger. Kyle is Engels en, ten spyte van die feit dat hy nie juis veel van Laurika weet nie, sing hy gereeld (onwetend) een van haar liedjies vir my: elke keer op pad huistoe van die werk af, wanneer ons so reg langs die see verby ry, sing hy in ‘n teatrale operastem, luid en bars en sonder enige skaamte:
“Ons het ‘n huisie by die seeeeeeeeee, dis DAG!”
Ja. DAG. Nie nag nie. Hier skyn die son immers nog lánk na die res van die land al voor die T.V. lê en werktuigkundig en ingedagte kou aan hul verlepte brocoli en halfgaar mikrogolfoond-etes.
Uiteindelik breek die dag van die konsert aan ! Ek was nog nooit in die Paarl nie, maar die oomblik wat ons daardie driedimensionele poskaart binne ry, weet ek: hierdie is nog ‘n stukkie aarde waar ‘n deeltjie van my hart gaan agterbly. Alles wat ek vooraf van die Paarl gedink het, blyk onwaar te wees. My oë soek stof, maar vind net groenigheid. Oral waar daar moes kômmin wees is nou net pragtige tuinhekkies en emmersvol eenvoudige elegansie. Dis ‘n plekkie wat enige aap wat ‘n taal magtig is tot poësie sal dryf.
Ons ry tot by die Taalmonument waar die konsert in die Amfiteater plaasvind en kry (ten spyte van derduisende motors) net hier voor die ingang parkering. Ek moet net keer of my lippe rek reg rondom my kop, so breed smile ek. Ek is ‘n lucky charm wanneer dit by parkeerplek kom – huur my gerus hierdie Krismis as jy by ‘n besige sentrum gaan inkopies doen...my blote teenwoordigheid verseker ‘n parkeerplek reg voor die ingang!
Kyle neem foto’s van my waar ek so breed glimlag dit lyk of ek ‘n groenmielie tussen my lippe vasknyp. Ons kry ons sitplekke en ek en Geri sit af opsoek na wyn.
Iets in die atmosfeer laat my siel huppel. Daar is net iets wat gebeur wanneer duisende Afrikaners bymekaarkom in die opelug, ‘n energie wat deur almal bruis en wat vreemdelinge, opstêrs en kômmin, vir mekaar laat glimlag en sommer lukraak met mekaar laat gesels. Dit is ‘n magiese gevoel wat nie in woorde omsitbaar is nie.
Ek het ‘n rokkie aan - so ‘n Audry-Blignaut-rooi ene en terwyl ek en Geri loop wyn koop, hoor ek skielik ‘n wildvreemde man agter my sing “Dans met die rooi rok...” Ek glimlag skeef en huppel verder.
Die son begin sak. Dis naderhand ag-uur en feitlik heeltemal donker, toe die ligte verdoof en Mnr Van Nierop homself op die verhoog verskyn. Soos wat Jak de Priester deur ‘n grappie tereg verwys: Leon is die eintlike Taalmonument. Hy heet almal welkom op sy innemende, gevatte wyse. Ek let op hoe mooi hy woorde uitspreek. Woorde val in sy mond soos koelronde klippies wat gemaklik en glad in ‘n waterstroom plons. Kan jy dink hoe mooi ‘n gesprek tussen hom en Riaan Cruywagen moet klink? Leon kondig vir Laurika aan en ek hou my asem in... Nog ‘n legende gaan nou oor daai verhoog uitstap!
Sy kom opgestap en terwyl die eerste akkoorde van Blouberg se Strand onder dawerende applous ontvang word. Die musikale inleiding sterf weg en sy gee haar eerste note:
Die golwe weet waar breek die branders
Hulle dink hulle’s vry
My liggaam is oortrek met hoendervel waarop ‘n blinde boeke vol sal kan lees. O hel, besef ek. Dis neusie-verby met my! Die volskaalse MOOI is eenvoudig veels te veel om te hanteer en almal wéét teen die tyd wat gebeur met my as iets mooi is…
Jip, dis reg. Trane. Ek gaan aan’t ween soos ‘n koshuismoeder aan die begin van ‘n nuwe kwartaal. Heeltemal onnodig maar totaal en al onkeerbaar.
Sug.
Die aand voer my tot reg in die hemel. Verby die pearly gates tot binne in in die voorste rye van ‘n koorbankie vol engele. Ek besef weer hoe baie ek hou van woorde. Van sang. Van self sing. Van luister en van meegevoer raak deur musiek.
Jy kry twee tipe mense: die’s wat na ‘n konsert kyk en dink sjoe, dit was nou mooi. En die’s wat na ‘n vertoning kyk en besef dat jou lewe nooit weer dieselfde sal wees nie. Dis asof al die vrot en drek van die lewe skielik agter skanse van vrede en liefde verdwyn. Op daardie oomblik gee jy nie om oor die (L)onmin op Marikana nie. Tussen die refreine en die koorgedeeltes vergeet jy dat die vallei by De Doorns brand en na trane ruik. Net vir ‘n rukkie is die wêreld ‘n vlekkelose, spierwit plek waar Asiatiërs weet dat renosterhorings net ‘n doel dien as dit nog aan die renoster sit; ‘n plek waar sirkusse en olifante wat truuks doen verban word; ‘n plek waar spookasem nog smelt in jou mond en konfyt net in botteltjies te kry is. Mooi. Rein. Skoon. Lieflik. Hemels.
Dis die wêreld waarin ek wil leef. Die een Monique leef in die regte wêreld. Die Hoofkarakter-Monique leef op papier. Maar vir die regte-egte Monique se behoud is daar mense wat hul lewe daaraan wy om konsert te hou wat haar wegvoer van die nare hier en die wrede nou. En sy dank haar sterre daarvoor.
Daar is baie dinge in die lewe wat my bang maak. Krismisbesies, koorsblare en Kelley Osbourne se kuite. Maar wat my die bangste maak is ‘n wêreld sonder teater en konserte.
The show must, after all, go on.
Wednesday, 31 October 2012
Flirt met jou Dash!
Flirt met jou Dash!
Vir Gideon.
Geliefdes,
ons is vandag hier vergader, om die lewe te onthou van ‘n fenomenale,
verruklike, fantastiese vrou wat die verste hoogtes gevier het maar, helaas,
voos was teen veertig. Sy het die lewe GELEEF en meer gedoen en ervaar as
meeste ander teen 80jarige ouderdom. Dié dat sy nou nie meer met ons is
nie. Sy het, liewe broers en susters, haar gô uitgeleef. Ons roep dus nou
vaarwel aan…
Sou dit wees hoe ek
koebaai gaan sê ? Live fast, die
young. Mmm…ek verstaan die neiging en die begeerte om vinnig en voluit en
volop te leef. Maar wraggies: ek wil verkieslik steeds léwendig anderkant
uitkom. (Ken jy ook mense wat te vinnig lewe?Live fast, die young and have a beautiful
looking corpse. Ja, James Dean. En hoe voel jy nou oor daai stelling?)
‘n Mens kan lewe. ‘n
Mens kan nie volop nie. Soos wat ‘n mot kan vlieg maar ‘n vlieg nie kan mot
nie. En ek wil darem graag my kleinkinders ontmoet…
Scene 1, take 2 :
Geliefdes, ons is vandag hier vergader, om die lewe te
onthou van ‘n fenomenale, verrimpelede, ver-eeude vrou : sy het die lewe
beleef en meer gesien en geskrik as meeste ander teen ‘n 102jarige ouderdom. Op
haar beleefde manier eers gewag dat die agterkleinkinders darem ook
voete-eerste-langboompies toe is, voordat sy so ongeskik kon wees om haar klein
koppie neer te lê. Ons roep dus nou vaarwel aan…
Dis al beter. Maar my lewe sal ook nie so
eindig nie. Hoe ouer, hoe wyser en as jy jonk is wil jy nie net vinnig leef
nie, maar ook vir altyd. Forever young...
Maar ek besef nou dat daar ‘n ouderdom en ‘n fase kom wat eendag vir ons almal
wag en – sonder om bang vir die donker en die dood te klink – ek weet nie of ek
edel genoeg is om voor te gee dat ek gemaklik is met ‘n uiters oue, afhanklike
ouderdom nie. Wie wil nou aan die genade van ‘n masjien oorgelaat word? In elkgeval nie in hierdie land waar Eskom dalk die
sleutels van die deur tussen hier en die hiernamaals in hul kloue vashou nie...
Dis natuurlik onmoontlik om te weet hoe die
einde van jou lewe hier op die blou-groen ghoen sal wees, om nie eers te praat
van “spoiling the surprise!” nie. Dit laat my dink aan Big Fish van Tim
Burton waarin hy meesterlik die storie vertel van ‘n man wat ‘n legendariese
lewe kon leef juis omdat hy geweet het hoe hy eendag lepel in dak sou steek –
dus het niks anders hom ooit bang gemaak nie. Praat van ‘n luukse, genade ons!
Ek het
‘n liefdevolle obsessie met die Wiskundige reël van Mamma Natuur . Eintlik is
dit ‘n kode, ‘n patroon. Die Fibonacci kode. Deur agtertoe te kyk, kan jy ‘n
baie noukurige en akkurate voorspelling maak oor wat vorentoe gaan gebeur.
Alles gebeur in patrone. Golwend, spiralend, uitklokkend en uitlokkend. En dis
maklik. Watter getal sal volgende kom? 4, 6, 8, 10...? 12, natuurlik. En nou?
2, 5, 8, 11... 14! Die uitkoms is maklik om te betaal omdat ons wesens is wat
ingestel is om patrone raak te sien en te eien. En dit is omdat patrone ‘n
stille berusting en ‘n tipe beheer
bring; as ek tog net altyd – altyd! – in beheer kan wees! En dit is waarom ons
aan patrone van die lewe vasgryp asof dit ‘n moeder se rokspante is en
vertroosting bied.
Die Fibonacci kode wat my lewe bepaal. 1, 1,
2, 3, 5, 8, 13, 21, 34, 55... My Parthenon, my Carltonmuseum. My perfekte Mona
Lisa smile.
Kyk na die verlede en
voltooi die patroon van jou lewe.
“All you get is a dash. 1983 - ? 1983 dash ?
What are you doing with your dash?”
“Give your dash to Jesus”
“Live your dash to the fullest.”
Om te begin by die begin, moet ek begin waar
my lewe begin en die begin van my lewe begin toe ek gebore is. Charles Dickens
het Groot Verwagtinge vir sy lewe gehad – en slim maniere om ‘n terugblik op
die lewe te, uhm wel, begin.
Alles begin met ‘n “A”.
Klerksdorp. Bothaville. Pretoria. Kaapstad. Italië? (“Tossie Lochner, Italië.” Wie onthou nog???)
Wat van ‘n
avontuur ?
Grootword is nie vir sissies nie. Ook nie vir boeties nie. Ook nie vir mamma’s en pappa’s
nie. Ook nie vir witmense nie. Ook nie vir
swartmense nie. Grootword is vir die voëls!
Maar grootword is ook onvermydelik. Die een
dag is jy nog vyf en trek jy gesigte op jou verjaardagfoto’s met die Raggedy
Anne verjaardagkoek en die volgende dag is jy tien en begin jy dink seuntjies
is dalk nie so sleg nie. Jy wip van babapop na Barbiepop na Baby Doll make-up.
(Kyle noem dit my kap. Soos in: “Het jy jou kap al aangesit, my Koosappel? Ek
wil ry.”) en obsessief versamel jy plakkers en herskep jou wêreld in ‘n
vlinderfiasko. (O, daai vlinders was so kômmin!)
Dis nou die eerste twee
dae van jou lewe. En dit was aand. En dit was môre : die derde dag.
Op die derde dag is jy
skielik skuinsbefoeterd. Jy’s dertien jaar lank al hier rond en skielik
verstaan jy en die wêreld mekaar aanhoudend verkeerd. Jy
sê iets wat jy nie bedoel nie en die wêreld kry seer. Die wêreld sê óók
dinge...en dan huil jy weens die Groot Misverstand van neentien-vyf-en-negentig
en jy sweer jy sal nooit weer met die wêreld praat nie! Dan vra ‘n outjie jou
uit en skielik is die wêreld weer wonderlik en huppel jy en wêreld-om-die-blaas
tot by sestien.
Ek wil ‘n geheim deel : die taal van die
liefde en romanse is toe al die tyd nié Frans nie ! Ek glo vas in rooiwyn
en Italian Crooners. Die taal wat die bloed laat kook van passie. Blood and
guts. Rou. Italiaans. Ploffers. Trillers. Skuurklanke. “puh-puh-puh, tr, tr,
tr, sht, sht, sht.” Gucci. Fibonacci. Da Vinci.
Op sestien is liefde belangriker vir
oorlewing as kos en water en wiskundepunte. En op sewentien wanneer daai liefde
verdwyn is die lewe ‘n blurr en skielik op agtien is jy verbaas dat jy tog
oorleef het sonder liefde...
En nou staan jy voor ‘n belangrike keuse: wat
gaan jy met jou dash doen?
Two roads divergend in the woods...
...and I took the one less travelled by.
And that has made all the differende.”
Miskien had Robert Frost ‘n punt daar beet.
Hoekom moet my lewe ander s’n weerspieël? It’s my party and I’ll karaoke if I
want to, damn it!
Always do what you are afraid to do.
Ok, Emerson, dit klink belowend en na ‘n
uitdaging wat ek dalk kan oorweeg...maar wat as ek bang is? Bang. Ek bang nie koue pampoene nie. Nie hiérdie Dapper
Muis nie. Ek bang ook nie donker of die val van die
ekonomie nie. Waarvoor ís ek wel bang? Ek is bang vir besies. Enige vlieënde,
sotlike gogga met ‘n harde ekso-skelet. Die goed het my al in trane gehad. (Ek
het jul gesê ek huil oor alles!) En ek bang onreg. Ek bang ek mis uit. Ek is
bang dat ek kleiner dingetjies begin miskyk. Ek is bang ek raak gewoond aan die
berg en die see. Ek is bang die magic was af.
Êrens deur my dash ontdek ek die onsterflike
kuns van die Beatles. John, Paul, Ringo en George dra my deur my dash en maak
van my ‘n denker. Ek ry saam op die Yellow Submarine en vermy maar liefs die Lucy
in the Sky with Diamonds. Jonie Mitchell. Sy beskryf so mooi in
haar lirieke dat ek saam met Joss Stone wil stem dat ek miskien ‘n era of wat
te laat ontstaan het. Hoor hoe beskryf sy ‘n prentjie uit Chelsey Morning
The sun
poured in like butterscotch stuck to all my senses
Oh,
won’t you stay, we’ll put on a day and we’ll talk in present tenses
Die Rock ‘n Roll legende van seks en drugs is
toe nie net mites nie en my helde vou die een na die ander. Hul gedagtes is
hoog en so is hul ook. Nare gewoontes. Maar ek laat lei my nie in die
versoeking nie en, te danke aan hierdie legends, word ek verlos van die
oppervlakkige.
Saam met die Beatles kom Catcher in the
Rye – cult classic wat vir soveel inspirasie gesorg het. Sommige meer edel
as ander. Holden Caulfield raak my post-teens hero on paper en ek verkondig die
evangelie van JD Salinger met groot genot. Moet my nou nie verkeerd verstaan
nie: ek’s nie kapabel en moor onder leiding van Caulfield, soos wat Mark
Chapman gedoen het nie.
Iewers tussen-in is ek ook nog bekeer tot die
Elvis geloof en skielik het ek en ou omies en tantes iets om oor te gesels. Buiten nou die perskereën van neentien-toet en die tyd
toe mens nog kon fliek en busry en gaan dans vir 50c. (Mmmm…was
nog maar altyd baie skepties oor die een.)
Leonnard Cohen. So long, Marianne. Dit
sal speel eendag op my begrafnis. Musiek word my inspirasie, my lewe, my
boodskap. Like a bird on a wire like a drunk in his midnight choir, I have
tried in my own way to be free.
En so tussen Elvis, die Beatles, Cohen en
Caulfield ontvang ek ‘n tikkie wysheid wat my lewe begin bepaal. Ek neem ‘n
vriend van my se ouma Little Company of Mary’s toe. Sy kry post-kanker
ondersoeke en ek vat haar so al om die ses maande. In die wagkamer kry ek warm.
Ek is bedruk en beteuterd oor die bleek gesigte wat oral rondom my sit met lang
naalde in maer arms. Wie weet in elkgeval hoe om so ‘n situasie te hanteer?,
wonder ek. Vies vir myself dat ek so lomp en oorbodig in hierdie mense se
teenwoordigheid voel. Ek besluit om buite te gaan asem skep. Dit hier waar ek
toe in Eva vasloop. Letterlik. Sy is ‘n bondeltjie bene. Sy sit op ‘n muurtjie
en rook. Ek sien die helder kopband om haar kop, maar sy dra dit nie soos
iemand wie se hare uitgeval en nou daaroor selfbewus is nie. Dis gevou om soos
‘n “alice band” oor haar gladde vel te pas. Sy dra haar kaalkop trots en met selfvertroue. Sigaret in die hand. Sterk kakebeen
en ‘n direkte blik wat voor niks wyfel nie. Kyk die lewe braaf in die oë en met
houding wat enigiets minder aggressief as kanker summier die hase pad sou laat
kies, stert tussen die bene, al tjankend bultaf.
Ek glimlag half verskonend in haar rigting en
wonder weereens hoe ek nou moet optree. Ek vermy oogkontak en vind die plante
voor my skielik intens interessant... Sy skroom egter geensins en ek kan sien
hoedat sy my skaamteloos bestudeer. Kyk my aan. Som my op. Raai my ongemak. En
pak my bul by sy horings. “Ou girl”, gooi sy haar opening line. “Laat ek nou
vandag vir jou vertel. Die Geheim van
Vrouwees: moet nooit vir ‘n man alles vertel nie. ‘n
Vrou moet altyd lyk of sy ‘n geheim bewaar. Net vir haarself. Vir haarself en vir haar sanity. En...FLIRT. Flirt met
alles. Flirt met die son, flirt met ‘n man, flirt met die lewe. Flirt, ou girl,
flirt jou gat af ! Dis al wat ek nog oor het.“
Sy’t haar stompie so geskiet dat dit ‘n
hiperbool-boog oor die muurtjie trek en sonder om eers in my rigting te kyk,
die hospitaal ingedrentel met haar mou wat sy sommer so in die loop oprol, reg
vir haar volgende sakkie gif.
Ek weet nie hoekom sy daardie dag met my
gepraat het nie. En ek wonder oor die beweegrede vir wat sy gesê het. Was dit
omdat sy van alle vroulikheid gestroop is en wou veg vir ‘n tikkie
sensualiteit? Elke gewonde leeu wil tog weet dat hy nog kan brul. Miskien was
ek net ‘n toevallige gehoor vir iets wat sy eintlik vir haarself wou sê. Ek
weet nie eers wat haar naam is nie, maar ek noem haar Eva. Van sy het die
wysheid van ‘n duisend vroue en al die vroue voor hulle.
Nou ja. Nou
flirt ek. Provocative Woman - deur Elizabeth Arden.
Ek flirt met idees. Met oomblikke. Met dingetjies
en met datjies. Flirt is, soos wat Eva tereg genoem het, al wat jou regtig keer
om kop te verloor.
Elke keer wat ek die swart golf voel
naderspoel. Wanneer ek verbyster staan voor die onreg, die wreedheid en die
vrotheid van hierdie wêreld. Dan onthou ek van die wyse Eva. En dan flirt ek.
“Geliefdes, ons is vandag hier vergader, om
die lewe te onthou van....’n vrou.”
Dis al wat ek weet. Daar sal ‘n predikant wees
wat “Geliefdes” met ‘n suurgesig gaan sê. Daar sal familielede wees wat swart
kispakke aanhet al is dit somer en al is dit al twee winters te klein. Daar sal
vriende wees wat eg sal wees in hul rou. En ek sal daar wees in liggaam en So long, Marrianne sal iewers in die
agtergrond speel en my hartsmense sal skeef glimlag en verstaan.
En hulle sal my dash oordink en herdenk. Die
glorie en die tragedie. Hul sal my dash ontleed en dissekteer en skielik al die
slegte vergeet en net die wonderlike onthou. My dash is wat oorbly as
soutstandbeeld om my lewe op die blou-groen ghoen te verteenwoordig.
En ek onderneem vandag plegtig, dat ek hul ‘n
VERRUKLIKE FANFARE van ‘n dash sal gee om mee te werk! Van nou af! Iets om
wraggies huistoe oor te skryf.
Sodat hul agterna kan terugdink en, soos my
ouma se oorle’ Ant Delina altyd gemaak het, vir mekaar kan kyk en sê:
“Dit was darem nou vir jou ‘n héérlike
begrafnis!”
In Memoriam:
Gideon Louw. My vriend. Vir wie ek mis.
Subscribe to:
Posts (Atom)